Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Woorde kan sulke onbeholpe goed wees, W

Ons het geweet dit gaan nie goed met jou restaurant nie, W. Al hoe minder mense het by die tafeltjies gesit wanneer ek daar instap.

Ek het maar stilgebly, en gehoop dinge verander gou.

Dana Snyman

Jy het nooit gepraat oor jou bekommernis nie, maar ’n mens kon dit sien. Dikwels het jy met ’n moedige glimlag kom groet en dan weer voor jou skootrekenaar by daardie agterste tafeltjie gaan sit, met ’n frons op die voorkop. ’n Moedelose stapeltjie fakture by jou.

Hierdie virus maak ’n mens wantrouig oor die kleinste dingetjies. Ek sal effentjies hoes, en dadelik wonder of dit nie dalk ’n droë hoesie was nie. ’n Gewone hoofpyn laat jou paniekerig wonder: Moet ek my nie môre laat toets nie?

Ek kon ook aan die inhoud van die koelkas agter jou kroegtoonbank sien dit sukkel. Daar was in die laaste ruk nie meer allerhande soorte bier uit België en ander plekke nie. Slegs plaaslike bier en ’n paar botteltjies Savanna, Hunter’s en ander flou goeters. Selfs voor die laaste verbod op die verkoop van drank was dit al so.

Ek kon ook aan die inhoud van die koelkas agter jou kroegtoonbank sien dit sukkel.

Stap ek in die laaste ruk by ’n restaurant in, kyk ek eerste wat en hoeveel daarvan in die koelkaste is. Dit is die droë hoesie van ’n restaurant. Hoe minder daar in die koelkaste is, hoe groter is die kans dat die plek toe gaan wees wanneer jy weer daar kom.

So ’n leërige, verwese koelkas maak my verdrietig.

Jou restaurant was jou droom. Jy het vir hoeveel jaar in Gauteng gewerk, kantoor toe en terug­, kantoor toe en terug; en toe jy die dag besluit om die skeidingspakket by die maatskappy te aanvaar, het jy presies geweet wat jy met die geld gaan doen: Jy gaan die restaurant by die see koop. Jy en jou vrou en jou kinders gaan nie meer net met vakansie see toe nie, julle gaan nou by die see woon.

Jy wou nie ryk kom word nie. Jy wou net kom wees wie jy nog altyd geglo het jy is. Jy hou van kosmaak en om mense gelukkig te sien. Jy wou laatmiddag sit en kyk hoe die son in die see wegsak, die reuk van gebraaide vis in die lug, en mense wat rondom jou lag.

En vir ’n ruk was dit nogal só. Ons het lekker geëet en gekuier by jou. Jy het die plek mooi gemaak en ordentlike musiek gespeel. Een middag selfs ’n bietjie Mozart.

Toe, verlede jaar, kom maak hierdie virus alles anders in die wêreld. Dit bring weinig troos om vir jou te sê jy is nie die enigste een nie, oral maak restaurante toe. Oral nóg mense sonder werk.

Ek kan nie eens na jou toe kom en my hand op jou skouer sit nie, te bang die virus is dalk in my en ek gee dit vir jou.

Daarom stuur ek vir jou hierdie woorde, W. Elke keer wat ons in jou restaurant was, was die lewe­ ’n bietjie mooier en genadiger plek.

Maar woorde kan ook sulke onbeholpe goed wees.

Ek weet nie mooi wat anders om vir jou te sê sonder om vals te klink nie. Liefde. D.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.