Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Woorde wek, ja, maar dade trek
Leopold Scholtz

Pres. Cyril Ramaphosa het op die mediakonferensie ná die naweek se vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gepraat soos iemand wat ’n belangrike veldslag gewen het. Wat wel die geval was. Maar het hy ook die óórlog gewen?

Sedert hy in Februarie 2018 president geword het, moes Ramaphosa katvoet loop. Met die flenterdun meerderheid waarmee hy tot partyleier gekies is, kon hy immers nie vanaf dag een maak en breek soos hy wou nie.

As hy dít gedoen het, sou sy presidentskap dalk die kortste in ons land se geskiedenis gewees het. Tog het ’n mens ná ’n paar maande ongeduldig begin word, en later ook moedeloos. Waarom tree Ramaphosa nie op nie?

’n Mens sou verskeie redes kon aanvoer: Feit is dat korrupsie en magsmisbruik onlosmaaklik in die DNS van die ANC ingebak is. Die ANC-leierskorps was al sedert die 1970’s in ballingskap onherroeplik korrup en onbekwaam – meestal ’n dodelike kombinasie – en dit het sedertdien nie verander nie.

Die meeste waarnemers was dit eens dat Ramaphosa tussen sy ore wéét dat sy party en sy regering se onbekwaamheid, korrupsie en magsmisbruik sleg vir Suid-Afrika is.

Die meeste waarnemers was dit eens dat Ramaphosa tussen sy ore wéét dat sy party en sy regering se onbekwaamheid, korrupsie en magsmisbruik sleg vir Suid-Afrika is. Maar, het die oortuiging allengs posgevat, selfs hý kan blykbaar nie die skuldiges se magsposisie aantas nie.

Dit is logies dat hy eers sy eie magsposisie in die ANC behoorlik moes konsolideer. Maar wanneer, indien ooit, sou dit dan gebeur? Wel, vandeesweek het ons ’n Ramaphosa gesien wat die sweep geklap het. En polities oorleef het, want die NUK het sy voornemens om die party van korrupsie te suiwer en skuldiges aan te pak onderskryf.

Gewis is dit ’n belangrike taktiese oorwinning vir die president. Nie alleen het hy sy magsposisie in die party daarmee versterk nie, hy het ook rigting aangedui vir die oorlog teen korrupsie. Maar, maar, maar . . .

Hopelik ken lesers my nie as iemand wat mooi woordjies vir evangelie aanvaar nie. Woorde wek, maar dade trek.

Dus sal Ramaphosa eers moet wýs dat hy sy voornemens in die praktyk kan bring. Hoe sal ons dit weet? Byvoorbeeld wanneer vermeende korruptes soos Jacob Zuma, Ace Magashule en ander voor ’n regbank staan om verantwoording te doen.

Maar méér as dit is nodig. Suid-Afrika se probleme bestaan nie slégs uit korrupsie en diefstal nie, hoe belangrik dit ook al is. Dit bestaan ook uit ’n ernstige tekort aan bekwaamheid.

Daardie tekort is die regstreekse gevolg van die rampspoedige beleid van kaderontplooiing (wat natuurlik met korrupsie saamhang).

Dit beteken dat belangrike poste in die staatsdiens gegaan het na mense vir wie sekere aanbevelings gegeld het.

Dit beteken dat belangrike poste in die staatsdiens gegaan het na mense vir wie sekere aanbevelings gegeld het: die regte velkleur (verkieslik swart), ondersteuning van die regte party (natuurlik die ANC), en ondersteuning van die regte faksie in die regte party (eers die Mbeki-, toe die Zuma-, tans die Rama­phosa-faksie).

Let daarop dat sake wat normaalweg in enige doeltreffende staatsdiens sou geld – kwalifikasies, ervaring, hardwerkendheid – eerder téén jou tel.

En ja, dan sluit ek nie my oë vir die feit dat mense in die ou Suid-Afrika ook bevoordeel is op grond van hul lidmaatskap van die Broederbond, die Nasionale Party en die NG Kerk nie. Tog verstout ek my om te sê dat die omvang van die destydse probleem nie ’n tiende was van wat dit tans is nie.

Bowendien loop die private sektor agter die ANC-beleid aan. Ook dáár gaan dienslewering steeds verder agteruit namate maatskappye witvoetjie by die ANC soek. Mense moet my dus maar vergewe: Totdat Ramaphosa wýs dat hy die skip regtig omgedraai het, skort ek my oordeel op.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Korrupsie  |  Woorde  |  Dade  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.