Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Woordeboek ’n liefdestaak wat al 95 jaar duur
Jana Luther

Altesame 10 171. Reeds soveel bladsye beslaan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), wat op 6 en 7 Mei sy 95ste verjaardag met die verskyning van nog ’n boekdeel vier.

Na die bekendstelling van Deel 16, redakteurstoesprake en die voortreflike klavierspel en sang van Ying-Shan Tseng kan jy op YouTube kyk en luister. Vir liefhebbers van trivialiteite volstaan ek hier met enkele statistieke.

In sy nuutste (laaste gedrukte) boekdeel verklaar die WAT oor 638 bladsye – van “SRP” (die afkorting vir “sekuriteitereguleringspaneel”) tot by “Szonditoets” – aan die hand van 13 554 definisies, 27 677 voorbeeldsinne, 1 771 frases, 3 548 sinoniempare, 1 292 vaste uitdrukkings, 3 541 deursigtige samestellings en die betekenisse van 7 573 unieke lemmas (trefwoorde en -frases).

Tel ’n mens van A tot S, wat nou klaar is, het die WAT, terwyl ek hier skryf, reeds 216 393 lemmas met 355 353 definisies, 349 863 voorbeeld­sinne (gekies uit digby 8 000 unieke bronne), 8 687 frases, 22 536 sinoniempare, 11 823 vaste uitdrukkings en 65 713 samestellings ontsluit.

Oor die volgende agt jaar sal die versameling aangroei tot by Z. Daarna vir solank daar mense is wat dié werk belangrik ag en dit bly steun.

Oor die volgende agt jaar sal die versameling aangroei tot by Z. Daarna vir solank daar mense is wat dié werk belangrik ag en dit bly steun.

Wat bied Deel 16 met artikels soos dié van “sterk”, wat oor tot 20 kolomme (7 bladsye) loop?

Vakterme: uit die argitektuur (“steunboog”, “suilegang”, “syskip”); die ekonomie (“stabilisasiefonds”, “storting”, “stygspekulant”); elektrisiteit (“stanggeleier”, “steunisolator”, “swerfstroom”); filosofie (“stoïsyns”, “strukturalisme”, “synsdimensie”) . . .

Woorde uit die geskiedenis van Suid-Afrika en die wêreld: “steekspel”, “stootkarring”, “strydwa” . . .

Uitdrukkings: “met stampe en stote” (met moeite); “met stamper en stoter” (te voet); “jou stêre roer” (gou maak); “sterkgesig”, “sterkgevreet”, “sterkgevriet” (op ’n uitdagende, parmantige manier dapper of slim wees); “soos ’n sykous oor ’n doringdraad voel” (pap en uitgerafel) . . .

Geselstaal, streektaal: “sterkbroek” (vir ’n polisiebeampte uit Griekwastad en Rehoboth); “stoeptrap” (vir ’n dik sny brood uit Philips­town); “stok-in-die-rok” (vir ’n hubbardpampoen uit George, Mosselbaai, Riversdal); “stokkieduiwel” (vir ’n stokinsek uit Namakwaland); “strokkie” (vir ’n turksvy uit die Oos-Kaap); “sweetneus” (vir ’n bees of os, omdat dié diere op die neus sweet) . . .

Wisselvorme: naas “stapelgek” ook “stawelgek”; naas “stingel”, “stengel”; naas “soontoe”, “seintoe”, “soentoe”, “sountoe”, “suintoe” en “syntoe”; naas “soveel”, “suffel” . . .

Woorde wat Afrikaans by ander tale geleen het: uit Duits (“strudel”); Engels (“superette”, “struggle”, “sundae”); Italiaans (“stiletto”); Japannees (“sushi”); Jiddisj (“stiekem”); Latyn (“sub judice”); Sanskrit (“svarabhakti”) . . .

Inligting oor waar woorde vandaan kom: soos “stapelgek” (van “stapel”, wat in Nederlands ’n kriek of sprinkaan is); “stentorstem” (van ’n Trojaanse herout, Stentor, wat volgens oorlewering harder as 50 krygsmanne saam kon skree); “strelitzia” (na ’n Duitse prinses) . . .

Die WAT weerspieël Afrikaans in sy wydste omvang. Kom gebruik hom by woordeboek.co.za.

  • Luther is ’n mederedakteur van die WAT.
Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.