Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Woordewisseling: Dié truuk keer Koos-mol om te prosedeer

Waar kom ’n kind se naam vandaan? Van die een wat aan die kind ’n bepaalde naam gee. Oor wat dié naam is, en hoe dit uitgespreek moet word, is eers die gewer en later die draer van die naam self die hoogste gesag. ’n Mens sou reken jy en jy alleen kan sê hoe jy genoem wil word, en hoe jou naam uitgespreek moet word. Maar dit is, (on)gelukkig, nie altyd die geval nie.

Word daar vir ’n kind ’n lang of ongewone naam gekies, kan jy byna seker wees, word dié naam kort voor lank ingekort of anders as bedoel uitgespreek. Jakobus word Jakob, Kobus, Koos; Elizabeth, Elize, Betsie, Bets. ’n Spesifieke voornaam kry in ’n gesin dikwels ’n ekstra betekenis: as troetelnaam, of as naam wat jy net genoem word as iemand vir jou kwaad is, of van jou ’n guns wil hê, of jou wil terg.

Op skool word dié namespel voortgesit. Onderwysers kry byname. Deelnemers aan sport. Baie dra hul byname met trots. Maar daar is ook byname wat hul draers nié geval nie, wat bly kleef. Hoe harder ’n mens jou teen so ’n bynaam verset, hoe moeiliker kry jy dit afgeskud.

In Vertel da’ vir my ’n storie van Namakwaland, ’n kontreibundel wat pas verskyn het, vertel die oudregsman-skrywer Jan van Wyk van ’n tyd “lank voor TV . . . toe nuus nog meestal op hoorsê aangewys en die stories van baasvertellers só met karakters vervleg was: vertel jy van die een, dan dwaal jy op die ander”.

Jana Luther

Met die ryk seggingskrag, unieke sintaksis en woorde van sy plek, wek Van Wyk, self ’n baasstorieverteller, sy karakters tot lewe: oom Vlerkie, Addie-kraai, Kerneels-beursiebek, Koos-kordaat, Sarel-uintjie, Anna-twaalftoon, Rooi Gys Aggenbach, Siena-swaaihaak, tant Huibrecht-Gert . . . Saam met die naam van ene Gert-waarheid, “ ’n man wat glo maar grof met die negende gebod omgegaan het”, word dié tradisie van bynaamgewing so verduidelik:

“Soos dit nou maar gaan met byname in Namakwaland, is daar altyd so ’n fyn spot aan verbonde. In (Gert se) geval, soos in andere, dui die bynaam juis op ’n teenoorgestelde. Sou hulle hom Gert-lieg of Gert-onwaarheid genoem het, wat hy in werklikheid verdien het, kyk, dan sou hy mos nou rede gehad het om te prosedeer. Met die teenoorgestelde weet almal waaroor dit gaan, maar Gert kan nie beweer dat hy beledig of belaster word nie. So werk dit nou maar met byname.

“Vat nou maar ene Jan van Niekerk. Hy verloor tydens ’n stropery sy been en kom sedertdien met die ander been alleen en ’n kruk oor die weg. In die volksmond staan dié Jan as Jan-duisendpoot bekend, en so sal hy sterf. Koos-mol weer, so genoem vanweë sy swak sig, het uiteindelik Koos-dingetjie-onder-die-grond geword. So kan Koos ook nie meer prosedeer, soos hy gedreig het toe hy nog Koos-mol was nie. Gert Hanekom, sy vrou, sy kinders, alger was rooi van haar en besproet. Wanneer Gert met sy groen bakkie en vrag rooikopkinders verbykom, was dit nou vir jou ’n gesig. Daarom die bynaam Gert-blomtuin. Dis mos mooi as iemand vir jou sê jy’s ’n blomtuin.”

In ’n stad van Ellalines, Zwanettes, Theondrés laat sulke karakters en hul tragikomiese verhale ’n mens na ’n afgeleë dorp aan die voet van die Kamiesberg verlang.

  • Luther versamel woorde by afrikaans-vandag.co.za.
Meer oor:  Jana Luther  |  Stemme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.