Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Woordfees buig in noorde se rigting met ‘energie’

Dit is met geesdrif dat Beeld die US Woordfees se uitnodiging aanvaar het om as ’n noordelike vennoot hande te vat.

Barnard Beukman

Nee, nee die fees is nie op pad noorde toe nie, ander feesdirekteure kan ontspan. Maar soveel feesgangers uit die noorde is
elke jaar in Maart in die Eikestad dat die bestuur tog besluit het om ook ’n sigbaarder buiging na feesgangers aan dié kant van die rivier te maak.

Nie net is in Johannesburg ’n byeenkoms gehou om ’n glasie te klink op die 20ste fees in 2019 nie. As deel van die feesprogram se bekendstelling hier, is daar vir Beeld-lesers die innoverende geleentheid om hul ideale feesdag saam te stel en dit dan, met reis en verblyf ingesluit, te wen.

Interessant is die volgende woorde van Saartjie Botha, feesdirekteur, in haar programvoorwoord: “2019 sou die begin van ’n aftelling kon wees. Die afstuur op ’n nul.

“Dis ’n kruispad-jaar; ’n jaar waarin demokratiese Suid-Afrika vir die sesde keer by die stembus gaan kruisies trek. Twee kruisies – XX – wat baie moet besweer: ongelykheid, armoede, korrupsie, gebrekkige leierskap, kommissie op kommissie wat onregte onthul en ondersoek, wankelrige stelsels, werkloosheid – dinge wat regmerkies kry en eintlik kruisies by moet hê. Angsvlakke is hoog, vertroue min, beursies plat.

“Dis te midde van hierdie lae moraal wat ons jou uitnooi om by ons 20ste Woordfees ’n draai te maak. ’n Kunstefees bied ’n wonderlike geleentheid om anders na die wêreld te kyk . . .”

Afrikaanse kunstefeeste het toe nooit die laers van terugtrek en isolasie geword wat baie gevrees het nie.

Gaan lees haar uitnodiging en meesleurende definisie van wat ’n fees kan wees gerus verder in die feesgids, waar sy ’n kunstefees onder meer ook beskryf as “ ’n broeiplek vir energie” op woordfees.co.za.

En vanselfsprekend blyk uit die program ook die unieke aanbiedings wat elke groot kunstefees in die land sy kenmerkende staanplek op die kalender gee.

Afrikaanse kunstefeeste het toe nooit die laers van terugtrek en isolasie geword wat baie gevrees het nie. En probeer ook nie, soos sommige smalend beweer het, om nou die enigste voertuig vir Afrikaans te wees ná vele staanplekke wat die taal begin verloor het nie.

Maar dit is belangriker as ooit ’n medekweekhuis vir die Afrikaanse taal, kunste, diskoers, toekomsverkenning en inklusiewe saamwees. Beslis.
) Nog nuus uit die feeswêreld kom van die ander studentedorpfees, Aardklop in Potchefstroom.
Daar het Japie Gouws die tuig neergelê as voorsitter van die
direksie. Hy was een van die
leidende medestigters van die “nuwe” Aardklop.

Beeld se gelukwensing aan Fika Janse van Rensburg, nuwe voorsitter en akademiese boorling van die dorp wat die leisels oorneem. Wanneer julle in die nuwe jaar fees hou, is Beeld en sy lesers weer daar.

  • Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Us Woordfees  |  Beeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.