Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Woordgeweld teiken vroue as sondebok, prooi
Wilhelm Jordaan

‘Femicide” is die gepaste woord vir die geweld teen vroue in Suid-Afrika en elders in die wêreld. Want wat is dit anders as die woedende uitwissing van vroue – miskien ’n huweliksmaat, ma, ouma, dogter, kleindogter, suster, vriendin; almal veronderstelde geliefdes?

Begrip vir dié skandvlek op menswees vereis ’n perspektief op konvensionele patriargie as ’n voedingsaar vir geweld wat daaruit vloei. Patriargie het te doen met dié evolusionêr gevormde oerbeeld: Die kragtige man het die swakker, en altyd beskikbare, vrou in besit geneem, haar gepenetreer, sy saad gestort en sy het dit ontvang.

In dié biologiese gebeure het konvensionele patriargie beslag gekry as die heerskappy van die man in ’n vaste hiërargie wat dikteer wat dit beteken om man en vrou te wees; en wat hul rolle is, seksueel en andersins.

Baie mans, hul seuns, en ook baie vroue en hul dogters ondersteun vandag nog dié opvatting: Mans lei, vroue volg. En dit word aangemoedig in sommige godsdienskringe wat die man as hoof van die huis as ’n Godsopdrag predik.

Namate verset teen patriargale denke en praktyke momentum kry en vroue bevryding en statuur in die werkplek en elders begin ervaar en uitleef, voel baie mans bedreig.

Namate verset teen patriargale denke en praktyke momentum kry en vroue bevryding en statuur in die werkplek en elders begin ervaar en uitleef, voel baie mans bedreig. Hulle reken die man se veelgeroemde krygerpsige, sy “Godgegewe wildheid”, soos John Eldredge dit beskryf in sy boek Wild at Heart, word ondermyn. Gevolglik beleef baie mans ’n soort ontmanning, ’n psigiese impotensie, want hul seksuele regte en genietings én magsposisie in die verhoudingslewe word bedreig.

Patriargale teenreaksies setel allereers in woordgeweld, in die “taal van die manne” in kleedkamers, kroeë en ander uithangplekke.

Onthou pres. Donald Trump se verweer oor “just locker room talk” oor vroue (“You can start kissing. But you can do anything. Grab them by the p***y. You can do anything.”)?

“Locker room” is dan ’n metafoor vir ’n skuilplek waar patriargale mans hul magsverlies betreur, hul manlike aard vertroetel, en hul vrese vir ’n feilbare fallus wegpraat.

Taalgeweld wat vroue tegelyk as sondebok en prooi brandmerk, floreer in ’n groeiende kultuur van aggressiewe patriargie. So beskryf die Sweedse komediant Felix Kjellberg vroue as “b*****s” en “wamen”; met inskrywings wat byvoorbeeld lui: “Let’s say your fist is respect and you punch the face of a wamen with the fist, you respect wamen.” Hy het sy bedenklike grappies oor verkragting gestaak, maar het steeds ’n aanhang van meer as 100 miljoen YouTube-intekenaars.

Patriargale taalgeweld, geregverdig as komedie of as die manne se manier van praat, is die draer van opgekropte ongelukkigheid, frustrasie en ’n lewenswoede wat na binne gekeer word. En by die geringste provokasie bars dit uit na buite – en vroue is die gerieflike, maklike teiken.

Om anders te leer praat, het ’n noodsaak geword – ’n enorme opvoedingstaak.

Meer oor:  Vroue  |  Seksisme  |  Patriagie  |  Vrouegeweld  |  Sondebok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.