Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Woordgeweld vernietig ook
Johannes Froneman

Deur die jare is die openbare debat deur verskillende faktore aan bande gelê. Daar was regerings wat gedink het mediavryheid is nie ’n reg nie en moet beperk word, druk wat burgers op mekaar geplaas het om mooi in die “aanvaarbare” raamwerk te bly, asook die gebruik van geweld.

In die 1980’s, byvoorbeeld, is probeer om die omvang van die onluste in die swart townships stil te hou. In ’n sin was dit ’n desperate poging om wit kiesers te isoleer van swart woede. Die SAUK het mense soos Desmond Tutu op ’n swartlys gehad.

Aan die ander kant is “verraaiers” in townships gruwelik met die halssnoermetode vermoor en het net enkeles geveg om dit aan die kaak te stel. Die meeste het bang stilgebly.

In die 1990’s was daar allerlei geweld, ook deur regsgesindes. ’n Lafaard het die versoener Johan Heyns afgemaai.

Al hierdie woede is deels deur die nuwe politieke bedeling ontlont, maar dit het nie die volgehoue oop politieke gesprek ingelui wat die ideaal in ’n funksionele demokrasie is nie – ondanks die nuwe Grondwet wat juis vryheid van spraak (spesifiek ook vryheid van die media) op papier waarborg.

Tog maak ons geen vordering op pad na ’n volwasse demokrasie waar daar respek vir mekaar se standpunte is en verskille rasioneel bespreek word nie.

Tog het ons ’n klomp radio- en TV-programme en koerante waar burgers hul mening kan lug, allerlei interaksies met belangegroepe deur parlementêre portefeuljekomitees, stadsrade en so meer. Mense hét praatkans.

Ons het dus geen tekort aan kanale en geleenthede nie. Tog maak ons geen vordering op pad na ’n volwasse demokrasie waar daar respek vir mekaar se standpunte is en verskille rasioneel bespreek word nie. Trouens, ons boer agteruit. Wanneer ’n minister in die parlement opstaan om te praat, probeer ’n groep EFF-LP’s dit verhinder. En die EFF maak ’n student stil wat Afrikaans op ’n meertalige kampus wil praat.

In KwaZulu-Natal vermoor senior ANC-lede mekaar en elke tweede week is die N2 naby Grabouw gesluit weens klipgooiery. Op talle plekke word ontwrigtende betogings teen swak dienslewering gehou. Die sluiting van die N2 by Plettenbergbaai weens betogings haal aanvanklik skaars die nuus; die afbrand van ’n biblioteek in Ottosdal darem wel.

Woordgeweld is sekerlik nie so erg soos fisieke geweld nie, maar die effek is ook verwoestend.

Hierdie voorbeelde het natuurlik verskillende oorsake. In sommige gevalle is mense so gefrustreerd dat hulle eiendom verwoes. Dit is onverskoonbaar, maar dit is hul manier van praat.

Die openbare debat word ook op ’n ander manier ondergrawe, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Geen wonder dat Twitter nou beledigende taal jeens godsdiensgroepe gaan probeer bekamp nie. En dan het ons nog nie na die skandalige uitsprake van pres. Donald Trump verwys nie.

In Suid-Afrika het ons ’n kombinasie van openbare geleenthede en mediakanale wat goeie kommunikasie in beginsel moontlik maak, maar dit word nie na behore benut nie. Inteendeel. ’n Demokratiese kultuur ontbreek by talle. Sommige gebruik dan gewelddadige vorme van “kommunikasie”.

Ander pleeg geweld met woorde. Woordgeweld is sekerlik nie so erg soos fisieke geweld nie, maar die effek is ook verwoestend. Want dit is wat “beskaafde” mense op sosiale media en ander internetruimtes doen wanneer hulle persoonlike aanvalle uitvoer om ander stil te maak of te verneder. Die vlak van debat in kommentaar laat my wanhoop en wonder of dit nog enige positiewe rol te speel het. Geen wonder sommige publikasies het dit gestaak nie.

As ons as land nie daarin slaag om hierdie veelkantige probleem reg te stel nie, is meer as ons vryheid van spraak ernstig in gevaar. Dan is die Grondwet met al die regte daarin vervat nie die papier werd waarop dit gedruk is nie.

Meer oor:  Debatvoering  |  Taal  |  Woordgeweld  |  Afrikkaans  |  Debat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.