Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Woordwisseling: Wat is die versamelnaam vir baie nulle?
Prof. Gerhard van Huyssteen

“Ek weet ons gebruik miljoen en biljoen anders as in Engels, maar ek kan nooit onthou hoe nie. Hoe werk dit?”

Dié vraag duik in taalkringe op met bykans dieselfde reëlmaat as versoeke in die parlement dat pres. Jacob Zuma moet bedank.

Die woord “miljoen” se paadjie is ’n interessante ene.

Die slim Indiërs het al voor die derde eeu getalname gehad vir getalle ver bo 1 000 000 000. Maar siestog, die Grieke kon net tot 10 000 tel en die Romeine tot 100 000.

In Latyn sou 1 000 000 iets wees soos deciec centena milia, oftewel letterlik “tien honderd duisend”. Vir die volkse Italianers was dit te veel van ’n mondvol en hulle het aan mille (“duisend”) die versterkende agtervoegsel -one gaan vasplak: milleone beteken dus letterlik “baie duisend”.

Aan die einde van die 18de eeu reken die Franse toe dat hulle verder wil tel as ’n miljoen, en vervang toe die -one met hulle eie versterkende agtervoegsel -ard wat letterlik “hard” beteken. ’n Miljard is dus as’t ware ’n “harde baie duisend”!

As ons weet dat “miljoen” gevolg word deur “miljard”, dan word die sommetjies ­makliker.

Die slim Indiërs het al voor die derde eeu getalname gehad vir getalle ver bo 1 miljoen. Maar siestog, die Grieke kon net tot 10 000 tel.

Die voorvoegsel bi- beteken “twee” (soos in “biseksueel”), tri- beteken “drie” (soos in “trilogie”) en kwadri- beteken “vier” (soos in “kwadmotorfiets”). Nou is dit supermaklik en logies (sien kassie):

As jy eers een keer hierdie benamingstelsel snap, is die kind se naam Wit Willem.

In Suid-Afrika word hierdie lang skaal deur wetgewing (Wet 18 van 2006) voorgeskryf. Daar was onlangs ’n ondersoek of dit verander moet word, maar die vakkundiges en outoriteite se aanbeveling was dat dié stelsel in Suid-Afrika behoue moet bly.

Binne die Media24-stal blyk daar verdeeldheid te wees. In die afgelope week verskyn ’n brief in Beeld wat melding maak van “staatskuld van R2,2 triljoen”, verwysende na “R2,2 trillion” in Engels. Dit moes dus eintlik R2,2 biljoen in Afrikaans gewees het. Dieselfde brief word in Volksblad gepubliseer, maar gebruik nou “R2 200 miljard”; tegnies korrek, maar wel omslagtig en verwarrend.

Huisgenoot het egter besluit húlle lesers is te dom om hierdie (eenvoudige) stelsel te verstaan: Met ingang 7 April deser volg hulle die Amerikaanse stelsel van miljoen, biljoen, triljoen – sonder miljard, biljard en triljard.

Ons dommes moet dus nou dubbeld somme doen: As ek enige ander (Media24-) Afrikaanse publikasie lees, weet ek dat “biljoen” = 1012, maar, wee my, as ek Huisgenoot lees is “biljoen” = 109.

Dalk moet Media24 vir Zuma vra om uitsluitsel oor die saak te gee . . .

1. miljoen = 1 000 000 (ses nulle = 10 6 )

miljard = 1 000 000 000 (drie ekstra nulle = 109)

2. biljoen = 1 000 000 000 000 (10 12 )

biljard = 1 000 000 000 000 000 (10 15 )

3. triljoen = 1 000 000 000 000 000 000 (10 18 )

triljard = 1 000 000 000 000 000 000 000 (10 21 )

4. kwadriljoen = 1 000 000 000 000 000 000 000 000 (10 24 )

kwadriljard = 1 000 000 000 000 000 000 000 000 000 (10 27 )

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Woordwisseling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.