Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Word die stille meerderheid uiteindelik gehoor?

Geskat aan al die name, wat leidende Afrikaners in sake, die kerk en die akademie insluit, kan Defend Our Democracy uiteindelik ’n stem aan die sogenaamde stilswyende meerderheid bied, skryf Christi van der Westhuizen.

’n Groep Suid-Afrikaners is weer bereid om demokrasie in die openbaar te steun en te beskerm. Foto: Melinda Stuurman

Een van die redes – moontlik van die belangrikste – dat Suid-Afrikaners in die huidige sosiaal-politieke en ekonomiese verknorsing is, is omdat ons toegelaat het dat die visioenêre politiek van die 1990’s deur sinisme van allerlei vorme verswelg word.

Maar net in die afgelope week was daar twee tekens dat dit tyd is om te onthou wat ons al vermag het en ons kollektiewe politieke verbeelding te verfris.

Die eerste is in die vorm van ’n boek wat argumenteer dat, in vergelyking met ander lande, Suid-Afrika met die beste oplossing vir politieke konflik vorendag gekom het. Die model wat Suid-Afrikaners in die onderhandelde skikking ontwerp het, baan die weg na een inklusiewe politieke gemeenskap wat gewelddadige verdelings vermy.

Dit is nie die een of ander “naïewe” betoog uit die 1990’s nie, soos sommige die politiek van daardie tyd uitkryt nie. Dit is die gevolgtrekking van ’n voorste Afrika-denker wat wêreldwyd geëer word. Prof. Mahmood Mamdani, wat sy tyd tussen Columbia-Universiteit in New York en Makerere-Universiteit in Kampala verdeel, voer dié argument in Neither Settler Nor Native aan.

Daarom dat ek begeester is deur die tweede teken dat ons met nuwe oë na die situasie en na mekaar moet kyk. Verlede week se saamtrek van ’n breë deursnee van Suid-Afrikaners in Johannesburg, onder die banier van 'Defend Our Democracy', weerspieël ons baanbreker-gesprekke van die 1980’s en 1990’s.

Die boek, wat deur Harvard University Press uitgegee word, is ’n vergelykende studie wat kyk na hoe politieke identiteite in Amerika, Duitsland, Soedan, Israel en Suid-Afrika geskep word.

Mamdani glo Suid-Afrika se demokratiese bestel is ’n poging om weg te breek van die kategorieë van setlaar/naturel en oortreder/slagoffer.

In plaas van hierdie verdelings, wat net tot meer geweld lei, het Suid-Afrikaners deur met mekaar te praat ’n nuwe gemeenskap van “oorlewendes” geskep, voer hy aan. Die visie is van ’n gedeelde toekoms en ’n inklusiewe gemeenskap wat verdelings van die verlede oorbrug.

In vergelyking bly die ander genoemde lande in gewelddadige verdeeldhede vasgevang omdat hulle nie ’n gemeenskaplike politieke visie ontwikkel wat almal insluit nie.

Dit behoort ’n wekroep vir Suid-Afrikaners te wees: om ons te herinner dat wat ons hier sedert die 1990’s probeer skep, soos in die Grondwet vasgevang, is uitsonderlik innoverend.

Dié is nie net die een of ander liberale pamfletjie, soos sommige dit probeer afmaak nie, maar sekerlik een van die moedigste en ook verbeeldingrykste pogings ooit om ’n manier te kry vir voormalige vyande om saam in een plek te woon.

Daarom dat ek begeester is deur die tweede teken dat ons met nuwe oë na die situasie en na mekaar moet kyk. Verlede week se saamtrek van ’n breë deursnee van Suid-Afrikaners in Johannesburg, onder die banier van “Defend Our Democracy”, weerspieël ons baanbreker-gesprekke van die 1980’s en 1990’s.

Ons unieke Grondwet

Murphy Morobe, leiersfiguur in die destydse United Democratic Front, is een van die vooraanstaande mense wat die Defend our Democracy-inisiatief steun. Foto: Melinda Stuurman

Ja, daar is ’n klomp mense in die groep wat op hul neus met Jacob Zuma gekyk het: wat hom ondersteun het omdat hulle blykbaar gedink het hy gaan beter leiding verskaf om die probleem van ekonomiese ongelykheid op te los. Maar die verklaring wat die groep uitgereik het, het die massiewe risiko wat die korrupte ANC-faksie vir ons demokrasie inhou, klinkklaar en dapper uiteengesit.

Die verklaring is ’n tydige herinnering dat die Grondwet die “uitstaande en onskendbare behaling” van al Suid-Afrika se mense is. Dit is die grondslag waarop ons onsself in ’n eenheid saamsnoer, ongeag oppervlakkige verskille soos fisieke voorkoms.

Defend Our Democracy wys ook uit wat die waardes is wat die Grondwet uniek maak. Benewens geregtigheid, menseregte en versoening, belowe ons mekaar in daardie dokument ’n demokrasie gegrond op gelykheid, waardigheid, verdraagsaamheid en vooruitgang vir almal. Dit is waarvan Mamdani praat as hy sê dat Suid-Afrikaners ’n nuwe politieke gemeenskap op grond van gedeelde beginsels geskep het.

Die verklaring waarsku dat teen die oor-individualisering van die probleem, gefokus op Zuma, gewaak moet word.

Wat ook belangrik in die verklaring is, is die nugtere uiteensetting dat waarmee die korrupte ANC-faksie besig is, inderdaad ’n aanslag op die fondasie van ons demokratiese bestel is. Dit is sekerlik die eerste keer dat so ’n wye front van Suid-Afrikaners saamstem en uitstippel wat daardie gevaar is.

Die verklaring waarsku dat teen die oor-individualisering van die probleem, gefokus op Zuma, gewaak moet word. Wat Suid-Afrikaners nou trotseer, is ’n “kartel” wat ’n politieke kultuur probeer opdwing van “persoonlikheidskultus, regering deur faksionele bevel, nepotisme en totalitarisme in ’n veiligheidstaat”.

Selfs die woord “fascisme” verskyn. Doekies word nie omgedraai nie, wat die nood van die huidige situasie onderstreep.

Gegewe dat sommige van die ondertekenaars bekende ANC-name insluit, is hierdie hopelik ’n teken dat die Ramaphosa-faksie besef dat hulle ’n breër groepering in die burgerlike samelewing moet betrek om saam die aanslag op die Grondwet te stuit.

Christi van der Westhuizen

Heelparty mense geassosieer met die Mbeki-era verskyn op die lys, wat gepas is gegewe dat baie van hulle in die regering gedien het toe die 1990’s se visie nog lewenskragtig was. Dit is belangrik vir dié mense – sogenaamde regdenkendes in die ANC – om die Grondwet teen hul eie comrades te verdedig.

Want dit stuur die boodskap dat die Grondwet en inderdaad Suid-Afrika belangriker as die ANC is. Dit is in teenstelling met die korrupte faksie se posisie, wat die party bo die land verhef omdat hulle die party in ’n voertuig vir hul eie onregmatige verryking omskep het.

Geskat aan al die name, wat leidende Afrikaners in sake, die kerk en die akademie insluit, kan Defend Our Democracy uiteindelik ’n stem aan die sogenaamde stilswyende meerderheid bied.

Hoe gaan Defend Our Democracy hul oproep dat alle Suid-Afrikaners die gevaar teen ons demokrasie sterk moet teenstaan, gestand doen?

Save South Africa en die optogte teen Zuma het die weg begin baan, maar was moontlik te nou geassosieer met Sipho Pityana, wat ook deel van hierdie groep vorm.

Van uiterste belang nou is die volgende stappe. Hoe gaan Defend Our Democracy hul oproep dat alle Suid-Afrikaners die gevaar teen ons demokrasie sterk moet teenstaan, gestand doen? Hoe gaan Suid-Afrikaners ons visie soos vervat in die Grondwet heraktiveer?

• Van der Westhuizen is ’n medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie, Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Defend Our Democracy  |  Jacob Zuma  |  Soedan  |  Suid-Afrika  |  Amerika  |  Duitsland  |  Israel  |  Grondwet  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.