Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Word ons nou ge-ras-Rica?

Dit is verbysterend, nee, eerder skokkend, dat in vandag se tyd en eeu daar nog staatsamptenare is wie se uitsluitlike opdrag is om te kyk of aansoekers behoorlik ge-Rica is. Dis nou nie die selfoon-Rica nie, maar eerder die ras-Rica. Hul uitsluitlike doel is om deur stapels aansoeke te gaan en seker te maak dat mense se ras korrek aangedui is. Die nuwe potloodtoets.

Hoe anders verklaar ’n mens die relletjie oor die Wes-Kaapse onderwyser Glen Snyman, wat voor ’n dissiplinêre komitee gedaag is omdat hy homself as Afrikaan geïdentifiseer het toe hy aansoek gedoen het om ’n bevorderingspos by die Wes-Kaapse onderwysdepartement? Die een of ander burokraat het opgelet dat Snyman in sy boek eerder “bruin” is en nie ’n “Afrikaan” nie. Hoe die betrokke staatsamptenaar by die antwoord van die som gekom het, weet nugter alleen. Hy moes net Snyman Rica.

Bruin is nie iets wat Snyman wou wees nie. Hy wil Afrikaan wees en niks anders nie, maar volgens die een of ander staatsamptenaar kan hy dit nie wees nie. Die eng definisie van Afrikaan is dat jy etnies swart moet wees om so geklassifiseer te wees.

Wat vir die padda in die keel gesorg het, was die aanvanklike reaksie van die Wes-Kaapse onderwysdepartement. In die eerste verklaring is voet by stuk gehou dat Snyman in der waarheid bedrog gepleeg het met sy identiteit en dat hy aan die pen moes ry.

Dit was eers nadat Debbie Schäfer, die LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, uitasem op die toneel opgedaag en ondersoek begin instel het dat die Wes-Kaapse onderwysdepartement toe Snyman se saak hersien en besluit het dat dit nie verdere optrede regverdig nie.

In die eerste plek moes haar departement hierdie uiters gevoelige kwessie met groter versigtigheid hanteer het. Ras is ’n teer saak gesien veral teen die verdelende agtergrond van die verlede én ook die hede. Ons kan nie die rasse-diskriminasie van die verlede wegredeneer nie en ook nie ras-diskriminasie van die hede nie.

Die eng definisie van Afrikaan is dat jy etnies swart moet wees om so geklassifiseer te wees.

Natuurlik moet die onreg van die verlede reggestel word en ons moet bedag wees wanneer ’n kwessie soos diensbillikheid ter sprake kom.

Soos Snyman tereg in ’n brief uitwys, is die regering taamlik opgetrek wanneer bruin mense hoë hoogtes bereik en dan word hulle in die boksie gedruk van swart, maar wanneer dit kom by die regering se werkskeppingsprogramme, bevordering en hulpfonds-uitdelery, word hulle as bruin mense en kleurlinge beskou. Vir wie is die bruin- of “coloured”-blokkie op die regering se vorms, beleide en sensusvorms dan bedoel?

Die Snyman-episode gaan die regering opnuut dwing om anders te dink oor ras. As Snyman kan deurgaan as ’n Afrikaan, verhoed dit ook geen wit mens om hom ook as ’n Afrikaan te beskou nie.

Ek was nog altyd ’n groot aanhanger van hoe regstellende aksie by die Amerikaanse mariniers toegepas word. As ’n wit marinier en ’n swart marinier albei 80% in hulle opleiding behaal, sal die keuse val op die swart marinier. Geen vaardighede of kennis word dus ingeboet nie.

Afrikaan kan dus nie beperk word tot bruin en swart nie. Laat mense wees wat hulle wil wees. As hulle hulself sien as ’n Afrikaan, hoekom nie? En wie is ons om te bepaal wie ’n Afrikaan is of nie? Jakes Gerwel was ’n man wat nierassigheid nie net voorgestaan het nie, maar dit ook intens bevorder het. In sy eie woorde: ’n Roos is ’n roos, maar hy bly ’n blom. Dus, of jy jou jouself sien as ’n bruin, wit of swart Afrikaan, jy bly ’n Afrikaan. En dié wat dit nie wil wees nie, dit is hul goeie reg.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger, susterkoerant van Volksblad.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Aansoek  |  Rica  |  Ras  |  Diskriminasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.