Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
WVK móét lei tot vervolging
Jan-Jan Joubert

Dit was die liberale politikus Dene Smuts wat altyd gewaarsku het: “Vervolging moet volg op die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) soos nag volg op dag.”

En dit is Rapport wat op 27 Junie berig het van die appèlhof se opdrag dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet verduidelik waarom die vervolging van moorde en ander strafregtelike vergrype uit die apartheidsera nie voortgaan nie. By die lees van dié berig het ek gedink ’n groot deur word dalk hier oopgemaak, met die land straks onbewus van die aard en omvang van wat in die proses ontketen kan word.

Die afgelope Sondag skryf die prokureur Jacko Maree, voormalige NP-LP vir Kliprivier, ’n artikel daaroor in Rapport. Hy plaas ’n paar harde feite op die tafel, wat sekerlik weer ter sprake sal kom, soos nag volg op dag. En hy vra interessante vrae oor die lot van 27 senior ANC-leiers. ’n Mens sou wel met sommige van sy afleidings en gevolgtrekkings verskil – min denkende mense dink dieselfde.

Die juridiese wordingsgeskiedenis van hierdie turksvy laat ’n mens oor aan die regskenners. Maar wat die politieke wordingsgeskiedenis betref, is daar volop getuienis dat die onderhandelinge in dié verband aan die NP se kant oorgelaat is aan Kobie Coetsee, destydse minister van justisie, en dat hy die venstertydperk vir ’n algemene amnestie nie gebruik het nie.

Oor Coetsee se positiewe bydrae tot die geskiedenis is daar geen twyfel nie. Twee onlangse boeke – Willie Esterhuyse en Gerhard van Niekerk se Tronk­gesprekke, asook Jan-Ad Stemmet en Riaan­ de Villiers se Prisoner 913 – het die kollig daarop geplaas. Ek het dit ook self beleef ten tyde van sy leierskap van die Ja-veldtog in die Bloemfontein-streek met die referendum van 1992.

Uit veral Afrikaner- en Zoeloe-geledere is die WVK die “Lieg- en Biegkommissie” genoem of selfs “ ’n sirkus gelei deur ’n huilende nar in ’n pers rok”.

Maar dat hy misluk het in sy mandaat om ondersteuners van die pre-demokratiese orde te verskans teen die oordeel van ’n ander politieke en juridiese waardestelsel – daaraan kan ’n mens nie twyfel nie. Waarom hy, strategies beskou, daardie warm yster nie gesmee het nie, bly versluier deur sy destydse ontoeganklikheid en sy latere afsterwe.

Daarom dus die WVK. Vir die duur van die WVK het die kommissie veral met aanvalle uit twee bronne geworstel. Vele van die meer ekstreme ondersteuners van die bevrydingstryd was woedend dat hul kant en dié van ondersteuners van apartheid oor dieselfde kam geskeer word. Die geïmpliseerde morele gelykstelling tussen onderdrukker en onderdrukte is bog, is en word geglo.

Uit veral Afrikaner- en Zoeloe-geledere is die WVK die “Lieg- en Biegkommissie” genoem of selfs “ ’n sirkus gelei deur ’n huilende nar in ’n pers rok”. Hul beswaar was dat die WVK mense sou bevoordeel wat die ANC sou steun.

As destydse uitgesproke ondersteuner van die WVK (saam met meer se­nior kollegas soos Tim du Plessis, wat tot sy eer ’n duur professionele prys daarvoor sou betaal) bly my oortuiging dat die WVK ’n goeie en reinigende proses was. Aanvalle op die WVK-proses steun ek nie. Die WVK het die sluier op menseregtevergrype oopgetrek soos die Zondo-kommissie dit oor korrupsie doen. En hulle het dit goed gedoen.

Coetsee se mislukking het altyd beteken Smuts was reg. Nag volg, met die onlangse appèlhofuitspraak, dus nou op dag, soos dit moes en altyd sou. Soos almal van oudpres. Jacob Zuma of enigiemand anders verwag, moet diegene wat nou aangekla gaan word, hulself in die hof verdedig.

Soos Zuma geleer het, moet ons die oppergesag van die reg eerbiedig en nie ondermyn nie. Nou en altyd – in Nkandla en in elkeen van ons se eie huis.

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Geld  |  Wvk  |  Korrupsie  |  Nvg  |  Vervolging  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.