Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Wys my julle verdien my stem’

Die manier waarop die “agbare lede” in die parlement met ons duurgekoopte demokrasie omgaan, laat Danny Titus wonder of enige party sy stem verdien.

Sê jou sê met jou stem in vanjaar se verkiesing, wil die OVK dit hê. Maar is dit regtig só, wonder Danny Titus. Foto: Argief

Daar is twee woorde wat volgens my geen plek in die Afrikaanse handel en wandel het nie. Die een is “anderskleurige” en die ander “agtergeblewene.”

Nou het daar nog een bygekom, die “agbare lid” of “honourable member” in Engels.

Kan ons nou konsensus kry oor die feit dat ons nasionale parlement een groot verleentheid is. Soveel so, glo ek, dat ons terug is by die onwettige parlement waarteen soveel aksies geloods is tydens ons vorige bestel.

Sosiale media wemel van lede wat slaap, in hul neuse krap, g’n idee het van “op ’n punt van orde” nie, blatant onbeskof en selfs gewelddadig is.

Vandag se A-span bly ver van die politiek.

Ek weet nie hoe die speaker en adjunkte dit regkry om die boel aan die gang te hou nie. Op die oomblik wil ek my so ver moontlik van daai klomp distansieer. Ja, natuurlik is daar uitsonderings.

Ek herinner my hoe dr. Pieter Mulder sy pa, dr. Connie Mulder, uitgevra het oor die Britse politici.

“Het pa mense soos Churchill en Chamberlain ontmoet?” “Nee, my kind,” was die antwoord. “Daai was nog die A-span. Vandag se A-span bly ver van die politiek.”

Jy kry hulle in die private sektor, die ekonomie. Ek weet werklik nie watter span speel in die land se parlement nie. Om van die provinsiale en plaaslike vlakke nie eens te praat nie. As hulle nie steel of uit die krip vreet nie, betaal hulle nie hul skuld nie en sak ons dieper en dieper in die gemors.

Die waarde van stemreg

Ek onthou hoe eindeloos die debatte vir universele stemreg was. Oorlede Pik Botha en die hele reeks van Nasionale Party-politici, dominees en akademici kon met vrymoed skreeu: “Een man, een stem nie vandag nie, nie môre nie, nie in ’n honderd jaar nie!”

Stemreg was die een reg waarop ten strengste gefokus is. Die ekonomie kon later kom, die landbou kon later kom. Die grootste van almal was die stemreg.

Dit het die ongelykheid van die verlede gelyk gemaak. Dit het die onmenslikheid van apartheidsvergrype platgeslaan en waardigheid, trots en solidariteit teruggebring – selfs te midde van die vergrype.

Watter enorme, enorme klap toe die sogenaamde vryheidsvegters die vryheid heelhuids begin opvreet.

In sy boek, Social Death and Resurrection – Slavery and Emancipation in South Africa, skryf John Edmund Mason dat die slawe in Suid-Afrika ’n sosiale dood beleef het. In ander dele van die wêreld natuurlik ook.

Uit daardie sosiale dood was daar die gedrewenheid, die drang na lewe, die Resurrection vir die slawe. ’n Mens hoef nie slawerny te oordramatiseer nie. Daarvoor lê die bewyse wyd en uitgestrek, veral in die Kaapse argiewe. Stemreg was nie vir die slawe beskore nie, selfs nie eens ná vrystelling in 1834 nie.

Daarvoor was die Britse kolonialiste te slim en te uitgeslape, of soos die Kapenaars sal sê, veels te uitgevrek. Toe die apartheidskolonialiste oorneem, was die bedjie lank reeds gesprei. Die Resurrection sou nog lank duur. En toe dit kom, toe dans ons die hele wêreld vol.

Kan my stem ’n verskil maak?

Watter enorme, enorme klap toe die sogenaamde vryheidsvegters die vryheid heelhuids begin opvreet. En die Resurrection slaan toe en die Social Death keer terug. Nou loop hierdie partye breedborstig rond om my te wil oortuig om my waardevolle kruisie vir hulle te gee? Is jy nou bedonit?

Is dit noodwendig waar dat jy net ’n verskil in die land kan maak as jy deelneem aan die verkiesing?

Kyk hoe vermors hulle ons demokrasie, ons vredesdividende is byna weg. Wat moet ek maak met my kruisie?

X-sê?

Ag nee wat, dan help ek liewer met projekte wat ’n konkrete verskil kan maak. Dan bou ek liewer saam aan ’n burgerlike samelewing wat hopelik die agbare lede tot inkeer kan bring.

Want of ek dit nou wil of nie, ons moet met mekaar saamwerk ter wille van die land. Maar laat hulle weet, my stem is nie goedkoop nie. Ek sal hul manifeste deurwerk, al die 60 of selfs meer bladsye per party.

Danny Titus

Hulle moet weet ons stemreg is duur gekoop. Laat hulle wys hulle verdien dit. Anders niks van my nie, geen kruisie en geen instemming nie.

Wys vir my jou party is ’n waardige party wat dit erns maak met hierdie land. Wys vir my jou leierskap kan leiding gee, oplossings bied en vorentoe gaan. Dink daaraan dat die wêreld en die land kyk hoe julle skreeu en skel op die rûe van armes, werkloses en ongelykes. “Agbare lid?”

Is daar nie ’n ander woord om die spul te omskryf nie, “agbaar” gaan my verstand te bowe. Die narratief van misdadigheid op die hoogste vlakke sonder konsekwensies sypel net dieper en dieper in ons samelewing in.

Die taak van die vervolgingsowerhede is onmeetbaar groot. Hulle het al ons ondersteuning nodig. Die korruptes slaan terug, hulle het geen geldtekort nie en hul invloed is wyd en uitgebreid.

Ek wil baie graag gaan stem. In die naam van hulle wat soveel opgeoffer het vir ons stemreg, die waarde van my stem wat ongeregtiges kan laat val, koninkryke kan laat tuimel.

Dit vervul my met opwinding, maar ook met ’n groot stuk ongeloof.

* Dr. Titus is die uitvoerende hoof van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk 24 nie.

Meer oor:  Connie Mulder  |  Pik Botha  |  Danny Titus  |  Verkiesing2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.