Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wys ook vinger na jouself, SA

Pres. Cyril Ramaphosa is besig om die vertroue-toets te druip. Hy het die stryd teen Covid-19 op ’n hoë noot begin en mense het gepraat van hoe gelukkig ons was om hom aan die stuur van sake te hê, eerder as byvoorbeeld oudpres. Jacob Zuma.

Maar soos die virus sy greep versterk het, het Ramaphosa se leierskap onder verdenking gekom. Deesdae word hy gesien as ’n leier wat beheer verloor en sy verantwoordelikhede om te regeer prysgegee het ten bate van ministers soos Nkosazana Dlamini-Zuma, Zweli Mkhize en ander in die bevelsraad.

Dlamini-Zuma word toenemend gesien as die de facto-staatshoof, wat haar eie ding doen en eintlik in beheer is van die stryd teen Covid-19. Mkhize, daarteenoor, word gesien as die ruggraat van die stryd teen die virus. Iemand wat sy werk met groot behendigheid en wysheid doen.

Hy kry die lof vir alles wat goed verloop in die stryd, terwyl Ramaphosa die skuld kry vir dit wat skeefloop.

Waar was Ramaphosa, het ek ’n week of wat gelede gewonder, toe die ANC besluit het om senior partylede wat geskors is weens vermeende betrokkenheid by die stroping van die VBS-bank se skorsing op te hef? Dit was vir baie maar net nóg ’n teken dat Ramaphosa nie in beheer van die ANC is nie.

En die regering se onlangse besluit oor die sluiting van skole word gesien as kapitulasie onder die druk van die magtige onderwysvakbonde.

Ramaphosa, het Peter Bruce Sondag in ’n rubriek in die Sunday Times geskryf, moet sy moed herontdek. Dit is egter moeilik om te sien hoe en waar dit vandaan sal kom.

In die ANC en die regering is hy omring deur mense wat teen hom is. Dieselfde geld die bevelsraad, waar groot besluite geneem word alvorens die kabinet daaroor besin het. Ramaphosa se probleme is ook Suid-Afrika se kopseer.

Een ding is egter seker: Selfs ’n onbevoegde Ramaphosa is beter as geen Ramaphosa in die wandelgange van mag.

Hy verteenwoordig ’n baie dun linie, maar dit is minstens ’n linie teen magte wat die land heeltemal kan verswelg.

Sy hulpeloosheid voorspel niks goed vir sy kanse om in 2022 herverkies te word as ANC-leier nie. Dit beteken dat hy dan ook nie in 2023 as president aangewys sal word nie. Sy oorwinning in 2017 was met ’n baie klein marge en sy teenstanders, vasberade ondersteuners van Zuma en sy korrupte manier van regeer, het nie geretireer nie, maar eerder hul posisie in die party verstewig.

Die harde realiteit is dus dat ons in 2023 weer met ’n Zuma-agtige leier opgesaal kan word.

Die harde realiteit is dus dat ons in 2023 weer met ’n Zuma-agtige leier opgesaal kan word. Dit is waarom dit so noodsaaklik is vir Ramaphosa om sy “moed te herontdek” en die leisels van leierskap in die ANC en die regering weer stewig in die hande te neem. Die regering het dit nodig, die ANC het dit nodig en die land het dit nodig.

Uiteindelik kan Ramaphosa net so sterk wees as die steun wat hy van gewone burgers kry. En dit, ongelukkig, is deel van die probleem. Ons is geneig om met hande gevou te sit te midde van die verkeerde rigtings wat ons leiers die land in stuur. Ons was deur die ergste van die Zuma-jare meestal stilswyende toeskouers.

Die ANC het toegelaat dat Ramaphosa net-net tot sy leier verkies is. ’n Sterker mandaat kon sy taak in die party en regering aansienlik makliker gemaak het. Ramaphosa se kwesbaarheid kan dus voor die deur van die ANC gelê word – en van ons, die kiesers, wat die party ten spyte van al sy bewese swakhede in elke verkiesing tog herverkies.

Die selfondersoek oor wat skeefgeloop het, moet dus nie net by die president gesoek word nie, maar ook by ons, die burgers. Die bekende gesegde lui mos dat ’n nasie die regering kry wat hy verdien.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.