Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wys rooikaart vir mans wat dié geweld kies

Baie mense stem met pres. Cyril Rama­phosa saam dat geweld teen vroue en kinders ’n nasionale krisis geword het.

Die afgelope weke se geweld teen vroue en kinders en die sinnelose dood van talle vroue en kinders maak ’n mens nie net woedend nie, maar vul jou met afgryse. En as ’n man vul dit jou met skaamte dat seuns en mans sulke wreedhede teenoor vroue en kinders kan pleeg.

Strenger wetgewing, swaarder strawwe, die bespoediging van regsprosesse en meer geld vir bewusmakingsprogramme kan help, maar is nie voldoende nie.

’n Omvattender plan van aksie moet op nasionale vlak begin word, asook een wat kinders – en selfs mans – van familiebetrekkinge en verhoudings leer en hulle moreel en eties opvoed. Psalm 8 leer ons immers dat die Here ons net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak het.

Optogte en plak­kate het net soveel impak. Mans moet van elke geleentheid gebruik maak om te praat, te leer en op te voed sodat ons die geweldslus kan afbreek, ons geneigdheid tot fisieke geweld, verbale geweld en emosionele afbreking van vroue en kinders kan stop, en ons as seuns en mans weer vroue en kinders met respek, menswaardigheid, liefde, waardering en bewondering kan beskou en behandel.

Geweld teen vroue en kinders begin en eindig by ons as mans.

Hierin moet ons as mans die voorbeeld stel en ophou om frustrasies en teleurstelling en woede en ongeluk op vroue en kinders uit te haal. Geweld teen vroue en kinders begin en eindig by ons as mans.

Spelers wat in rugby- en sokkerwedstryde ernstige oortredings begaan, kry dikwels ’n rooi kaart en word van die veld af gestuur. Só ’n speler neem dan nie verder aan die wedstryd deel nie.

Mans en seuns wat enige vorm van misdaad teenoor vroue en kinders pleeg, verdien ook ’n rooi kaart – hulle moet van die speelveld van die samelewing verwyder word.

Hulle moet swaar gestraf en gehelp word om hul oortreding te verstaan en gerehabiliteer word voordat hulle enigsins weer naby kinders en vroue toegelaat word.

Rooi kaarte moet ook uitgedeel word aan gemeenskappe, organisasies en individue wat toeskouers bly van geweld teen vroue en kinders en niks doen om hierdie grusame oor­tredings te stop nie. Wetgewing moet mans en seuns beskerm wat ingryp en optree om geweld teen vroue en kinders te stop.

Iemand maak onlangs die opmerking dat ons gemeenskappe, ons land en mans siek is om sulke onmenslike dade teenoor vroue en kinders te kan pleeg.

Ons kan nie bekostig dat dít die beeld is wat mense van ons land het nie. Dit kan nie die vrug van demokrasie en die bevryding van apartheid of die vooruitsig vir ons kleinkinders wees nie.

  • Dr. Katts is voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.
Meer oor:  Moord  |  Kindergeweld  |  Geweld Teen Vroue  |  Rooikaart  |  Verkragting  |  Vroue Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.