Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wysheid van ’n Salomo is nou in Sirië nodig

As die kruitvat in Sirië nie dringend en op kort termyn verstandig bestuur word nie, kan dit met groot geweld ontplof en veel wyer uitkring as wat tans die geval is.

Die vonk is die offensief wat die Siriese diktatuur van pres. Basjar al-Assad onlangs teen die laaste gebied onder beheer van die rebellegroepe, in die noordwestelike provinsie Idlib, van stapel gestuur het.

Bekyk ’n mens die offensief bloot militêr, is dit duidelik wat die oogmerk is – beheer oor die M5-snelweg tussen die hoofstad, Damaskus, en die belangrike ekonomiese sentrum van Aleppo. As dié pad weer vir die Assad-regime oopgestel kan word, beteken dit ’n beduidende oorwinning.

Basjar al-Assad van Sirië.

Maar hierdie offensief het aansienlik groter implikasies as net dit. Dit verskaf die katalisator vir ’n internasionale oorlog. Assad se troepe word deur Russiese bomwerpers en spesiale magte bygestaan. Aan die ander kant dreig pres. Recep Tayyip Erdogan van Turkye om sy troepe oor die grens te stuur en die oprukkende Siriese magte met geweld te stuit.

Erdogan is ’n kwasterige Turkse nasionalis wie se oorkoepelende doel is om die eertydse glorie van die Turkse sultanaat te herstel. En beheer oor die noordelike gebiede van Sirië vorm deel daarvan.

Trouens, sy troepe neem al klaar aan operasies teen die Koerde in die noorde van Sirië deel. Die Koerde is ’n volk sonder ’n eie land wat in die grensgebiede van Turkye, Sirië, Irak en Iran woon en na selfbeskikking streef. Erdogan beskou hulle as ’n bedreiging vir die Turkse eenheid, vandaar sy ongenaakbare houding.

Hoe ook al, die gevaar bestaan nou dat Turkse troepe teen Assad se magte, bygestaan deur Russiese soldate, kan bots. Iets soortgelyks dreig trouens in Libië, waar die Turke en Russe teenoorgestelde partye in dié land se burgeroorlog steun. Navo, waarvan Turkye ’n lidland is, wil nie ingesuig word nie. Die betrekkinge tussen Turkye en die res van Navo is weens Erdogan se gereelde verkragting van menseregte al klaar behoorlik gespanne.

Nog iemand wat tussen twee vure sit, is pres. Donald Trump van Amerika. Enersyds het hy ’n voorliefde vir al wat diktator is, en dus is hy op vriendskaplike voet met sowel Erdogan as pres. Wladimir Poetin van Rusland.

Andersyds wil hy nie gedwing word om tussen die twee te kies nie. Gevolglik sit hy met ’n tameletjie wat ’n aansienlike dilemma vorm. Indien Turkse en Russiese magte wel aanmekaar spring, kan dit Trump en die res van Navo dwing om óf kant te kies óf hulle heeltemal afsydig te hou.

Maar die Assad-offensief het ’n golf van tot 900 000 vlugtelinge in erbarmlike toestande teweeggebring, en dis ’n ope vraag of die Weste dit sonder politieke skade kan toelaat.

Die Siriese burgeroorlog is ’n gemors. ’n Oplossing sal die wysheid van ’n Salomo verg.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Sirië  |  Burgeroorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.