Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wysheid van sprokies is wat ons nodig het
Erik Holm.
Erik Holm

Gewoonlik hou ek my nie veel op met politiek nie. Magsug (en daarmee saam geldsug) en seks is twee terreine waarop die mensdom nie veel ontwikkeling reggekry het sedert die Steentydperk nie.

In alle aap- en bobbejaantroppe geld hier dieselfde “simiaanse” sosiale kontrak en reëls: Dit gaan oor hoe skelm jy kan wees. Hou ’n uiters altruïstiese beeld na buite in stand (soen die babas) en sluit agteraf magsalliansies, diskrediteer die konkurrente, kompromitteer jou vennote, lieg, bedrieg, roof en steel. En soos jou mag groei, intimideer en onderdruk jy jou opposisie gewetenloos. Dié wat volgens reëls probeer speel, kom nie ver nie.

Die openbarings in die Zondo-kommissie is eintlik geen verrassing nie ná die vroeër lekkasies van korrupsie met die wapenskandaal, die Boesak-storie, die Shaiks, Nkandla, die Guptas, Eskom, die SAL, Prasa en Denel. Net twee dinge is noemenswaardig. Eerstens is dit baie duidelik dat korrupsie nie ’n rasseverskynsel is nie. En tweedens is dit nie beperk tot “alfa”- leiers nie, maar eerder sommige ambisieuse middelvlak- leiers – die “betas”. Ons korrupsie-kultuur is ’n trotse reënboognasieproduk.

Dalk ly ek onder die bekende oumens-illusie dat dinge vroeër nie so sleg was nie – maar beter raak dit beslis nie. Wat het dan in een generasie so verander dat die simiaanse gedrag, teen die loop van kulturele ontwikkeling, weer so kan hoogty vier?

In die kleintyd, daaroor is sielkundiges, opvoedkundiges en neuroloë dit eens, vorm ’n kind sy wêreldbeeld en beskouing – en redelik permanent. In alle kulture is dit die tyd wanneer hulle stories vertel word deur die mense naaste aan hulle, wat hulle vertrou en lief het.

Die keiser is nie noodwendig boos nie, maar het ’n swakheid: Hy is ydel.

Stories wat diep lewenslesse en riglyne bevat wat nooit uitgewis word nie. Stories soos: “Die keiser se nuwe klere”. Die keiser is nie noodwendig boos nie, maar het ’n swakheid: Hy is ydel.

Die twee skelm kleremakers (dalk Shaiks of Guptas?) buit dit elegant uit en koppel die sigbaarheid van hul virtuele klere aan iets edels: eerlikheid, nogal. Die skaaptrop-publiek wil self graag eerlik lyk en “sien” dus almal die klere. En ’n klein kind, die enigste werklik eerlike een, sien deur die oneerlikheid en word die fluitjieblaser.

Ek dink ’n groot deel van die wêreld se morele verval kom daarvan dat ons nie meer die wys­heid van ons kulturele “meme”, waarop ons beskaafdheid grond, deur sprokies aan ons kinders oordra nie. Ek het in my kleintyd gehoor van Siegfried en Diedrich von Bern en ander ridders en die edelheid en plig van ridderlikheid kon ek nooit weer heeltemal afskud nie.

Ek het gehoor van prinsesse en wyse vroue en kon lewenslank ’n vrou nooit weer heeltemal minag nie – laat staan slaan. Vertel jul kinders die wysheid van sprokies terwyl hulle nog vatbaar is vir morele waardes – alles van die oorlog van Troje tot jakkals en wolf. Ons het dit nodig.

Holm is ’n emeritus-professor in entomologie aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Erik Holm  |  Politiek  |  Politici
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.