Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zacharias Wagenaer se Kaapse nalatenskap

’N Aangrypende besoekpunt in Kaapstad is in die Goue Akker in die middestad. Hier kan die reste van die dam en kanaal – die Nuwe Bak – agter glas gesien word wat kommandeur Zacharias Wagenaer in 1663 op die destydse kuslyn laat bou het om vars drinkwater aan die verbygaande skepe te voorsien.

Fransjohan Pretorius

Wagenaer was die tweede kommandeur aan die Kaap en het Jan van Riebeeck in 1662 opgevolg.

Hy was Duitssprekend en is op 10 Mei 1614 in Dresden gebore, waar hy as tekenaar en kopergraveur opgelei is. In 1633-1634 werk hy by die beroemde kartograaf Willem Blaeu in Amsterdam. In 1634 word hy ’n amptenaar van die Westindischse Compagnie in Brasilië. Daar maak hy ook 109 gekleurde tekeninge van diere en plante met deeglike beskrywings.

In 1642 word Wagenaer ’n amptenaar van die Oostindischse Compagnie en hy vertrek as adelbors na Batavia. Hy bewys hom as intelligent, hardwerkend en betroubaar, en boonop ’n goeie boekhouer. In 1646 word hy tot eerste klerk bevorder. Twee jaar later trou hy met Maria aux Brebis, ’n Nederlandse meisie van hoë stand. In 1649 word hy tot koopman bevorder. Nog twee jaar later word hy as lid van die Raad van Justisie van Batavia aangestel. Hy neem aan verskeie handels- en politieke sendings in die Ooste deel, ook na Madagaskar. Tussen 1656 en 1658 is hy hoof van die Oostindische Compagnie se handelspos in Nagasaki in Japan. Daar word vertel dat sy naam hier “der Donnermann” was weens sy streng optrede.

In 1661 word Wagenaer direkteur van openbare werke in Batavia, maar hy versoek ’n ander amp omdat sy gesondheid – jig – hom nie toelaat om soveel te reis nie.

Wanneer Van Riebeeck se aangewese opvolger as kommandeur, Gerrit van Harn, in Maart 1661 op see op die uitreis sterf, word Wagenaer se versoek om Van Riebeeck op te volg, toegestaan. Op 6 Mei 1662 neem hy by Van Riebeeck oor.

Hoewel hy ’n tyd lank bedlêend is, behaal Wagenaer groot sukses aan die Kaap.

Hy lê hom veral toe op die ruilhandel met die Khoi-Khoin en lewer ruim verversings aan die besoekende skepe.

Ná die aanbeveling van die besoekende VOC-amptenaar Ijsbrand Goske begin hy op 22 Mei 1666 met die bou van die kasteel om Van Riebeeck se fort te vervang. Hy voer glas in vir vensterruite in die plek van katoen. Hy beveel aan dat hardwerkende gesinne in die Kaap moet kom woon en dat wetsoortreders weggestuur word.

Wagenaer beywer hom sterk vir geld, klerasie en kos vir behoeftige burgers en vra die Here XVII – die raad van die VOC – of die versorging van behoeftiges nie ’n jaarlikse instelling moet wees nie. Op sy versoek arriveer ds. Johan van Arckel in 1665 as die eerste vaste predikant aan die Kaap.

Wagenaer se eggenote sterf in 1666 aan die Kaap, maar haar grafplek is onbekend.

Op 1 Oktober 1666 verlaat Wagenaer die Kaap. Presies twee jaar later sterf hy in Amsterdam. In sy testament bemaak hy geld aan die voogde van armes aan die Kaap.

  • Pretorius is emeritusprofessor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.