Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Standpunt
Zille was dalk net halfpad reg

Daar het pas weer ’n storm losgebars oor ’n Twitter-plasing van Helen Zille, die DA se federale voorsitter, waarin sy daarop sinspeel dat meer rassewette ná 1994 gemaak is as in die apartheidsjare.

Die verontwaardiging daaroor is gevoed deur ’n blinde geloof in die grondwetlike verbintenis van Suid-Afrika tot die beginsel van nierassigheid. Sy is selfs deur John Steenhuisen, die DA se tussentydse leier, gerepudieer.

Maar is Zille inderdaad verkeerd?

Willie Spies. Foto: Lisa Hnatowicz

Prof. Koos Malan, grondwetkenner aan die Universiteit van Pretoria, het reeds in 2010 ’n lys van post-1994-rassebepalings in wetgewing in ’n akademiese artikel opgesom.

Dit bevat nie eens die prominentste rassewette nie, soos die Wet op Billike Indiensneming, wat voorsiening maak vir kwotas in die werkplek; die Wet op Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), wat voorsiening maak vir rasse-profiele van aandeelhouding in en beheer van ondernemings of die Wet op Nasionale Sport en Ontspanning (die vereiste van verteenwoordiging by alle sportspanne, na goeddunke van die minister van sport).

Die mees onlangse omstrede vereistes van die departement van toerisme, wat voorkeur verleen aan swart beheerde maatskappye met betrekking tot Covid-19-verligting met staatsgeld, of onlangse ontwikkelinge, soos die voorgenome wysiging van art. 25 van die Grondwet oor onteiening sonder vergoeding ten einde grond aan swart mense te herverdeel, is ook nog nie deel van die lys nie.

Die lys sluit 45 wetsbepalings in wat rasseverteenwoordigendheid vereis in onder meer werkplekke, beheerliggame en kommissies, waaronder die Nasionale Jeugkommissiewet; die Wet op Kulturele Instellings; die Mededingingswet; die Uitsaaiwet; die Munisipale Afbakeningsraadwet en die Wet op Geografiese Name – om net ’n paar te noem.

Hoewel die Wet op Rasseklassifikasie herroep is by die uitfasering van apartheidswette tussen 1990 en 1994, het die staat nou ’n nuwe definisie van swart mense gevind.

Die Wet op Breë SEB definieer swart mense bloot as “ ’n generiese term wat Afrikane, bruin mense en Indiërs” insluit.

Die Wet op Billike Indiensneming gebruik dieselfde definisie, maar maak voorsiening vir die verdere onderskeid tussen verskillende klasse swart mense, naamlik Afrikane, Indiërs en bruin mense, tesame met die klassifikasie van gestremdes en vroue.

Litigasie is al deur die vakbond Solidariteit tot in die konstitusionele hof gevoer in gevalle waar die polisie teen ’n vrou, kapt. Renate Barnard, gedis­krimineer het omdat sy nie swart is nie.

’n Verdere regstryd is deur Solidariteit teen die departement van korrektiewe dienste gevoer omdat hy gediskrimineer het teen ’n groep bruin lede by ’n gevangenis in die Wes-Kaap – weens die “oorverteenwoordiging” van bruin mense, wat weer onderskei word van African blacks.

“Nierassigheid” is een van die funderende beginsels van die Grondwet, wat met slegs ’n meerderheid van 75% gewysig kan word. Malan bestempel die nierassigheidsbeginsel in die Grondwet as ’n voorbeeld van wat hy doodgebore reg noem.

Nierassigheid is volgens Malan doodgebore omdat die beginsel van diversiteit en breë verteenwoordigendheid van instellings deur die staat se wetgewing omvorm is tot ’n eksakte wiskundige formule wat proporsionele rasseverteenwoordiging in elke denkbare sektor van die samelewing opdwing.

Met bogenoemde in ag, was Zille dalk korrek, maar nie polities korrek nie.

  • Spies is ’n prokureur van Hurter Spies Ing. en voorsitter van Pretoria FM.
Meer oor:  Helen Zille  |  Rubriek  |  Reg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.