Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zim gee hoop aan Afrikalande

Zimbabwiërs het nuwe betekenis gegee aan die begrip “staatsgreep”.

’n Staatsgreep word gewoonlik met spoed uitgevoer en lei dikwels tot bloedvergieting. Maar die Zimbabwiese weermag wat verlede week ’n staatsgreep uitgevoer het om pres. Robert Mugabe se houvas op die land te beëindig, het om onverklaarbare redes uit hul pad gegaan om nie die mag met geweld oor te neem nie.

Dit was vir die weermag belangrik om te hou by grondwetlike voorskrifte om van Mugabe en sy vrou, Grace (die wortel van al die kwaad in Zimbabwe), ontslae te raak.

Waarnemers en die media het rondgeval om dit ’n naam te gee. Een koerant het gepraat van ’n “geleidelike staatsgreep”, wat dit waarskynlik was.

Zimbabwiërs is bekend vir hul geduld met Mugabe, wat oor die jare muteer het van ’n held van die bevrydingstryd tot ’n venynige magsvergryper wat die land se ekonomie in die grond gedryf het. Die laaste strooi was egter die posisionering van sy vrou as sy opvolger. Dit was net te veel vir die regerende Zanu-PF en, vreemd genoeg, ook gewone burgers. Hulle het Saterdag in hul duisende in Harare se strate die Mugabes se koppe geëis.

Die protesteerders was duidelik aan die kant van die weermag. Vir Zimbabwe was dit ongekend, en die skrif aan die muur vir Mugabe, wat oor die dekades die passiwiteit van sy landsburgers behoorlik uitgebuit het.

Die gebeure in Zimbabwe moet dien as ’n les vir ons eie leiers. Nes Zanu-PF glo die ANC ook hy het ’n godgegewe reg om te regeer. Tot nou het die ANC nog altyd deelgeneem aan veelpartyverkiesings en het hy die uitslag daarvan erken. Daar is ook nie in ANC-geledere ’n kultuur van “president vir altyd” nie.

Die gebeure in Zimbabwe moet dien as ’n les vir ons eie leiers.

Oudpres. Thabo Mbeki het hom in 2007 vir ’n derde termyn as ANC-leier verkiesbaar gestel, iets wat die party se grondwet toelaat. Die land se Grondwet verbied egter meer as twee termyne vir die staatshoof.

Die ANC het Mbeki egter in 2008 uit sy amp as staatshoof verwyder. Dit was ’n vorm van magsoorname, maar die ANC was baie versigtig om te verseker dat dit binne die perke van sy eie en die land se grondwet gebeur. Mbeki het vreedsaam opsy gestaan en Jacob Zuma het hom in 2009 as staatshoof vervang.

Een ding blyk seker te wees: Suid-Afrikaners sal nie gedweë ’n ongrondwetlike magsoorname duld nie. Afrika het oënskynlik ook ’n aptyt ontwikkel vir die demokrasie soos wat ons dit in Suid-Afrika praktiseer.

Geen Afrikaland het hom by Mugabe geskaar nie. Trouens, hulle het gewys op die liberale voorskrifte vir magsoornames in die protokolle van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsorganisasie (SAOG) en die Afrika-Unie (AU).

Mugabe het sy hand oorspeel en ’n lat vir sy eie bas gepluk en hy betaal nou ’n duur prys vir sy dwalinge.

Die boodskap aan aspirerende outokrate in Afrika is duidelik: Die politiek kan baie gou eensaam raak. Vra vir Mugabe. Zimbabwe het gewys daar kan nie altyd op die weermag gereken word om mag wederregtelik oor te neem en in stand te hou nie.

Wie Mugabe ook al opvolg, sal moet besef Mugabe se manier van doen hoort tot die verlede. Zimbabwiërs het nou ’n smakie gekry van die demokrasie se krag in aksie – al is dit deur die weermag moontlik gemaak – en hulle sal dit nie maklik prysgee nie.

Zimbabwe sal hoop gee aan mense in ander Afrikalande in soortgelyke omstandighede. En hopelik sal die weermagte in dié lande die voorbeeld van die Zimbabwiese weermag volg en hom aan die kant van die mense en nie korrupte politieke leiers skaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.