Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zim-weermag dalk katvoet vir Grace se koord
Blouwillemaandag

Ek kan ná die naweek heeltemal verstaan waarom konings, keisers, presidente en die Moergabes ons Nommer Een en ander hoogste hogeres so tot in die oneindigheid aan hul mag vasklou.

Want magtig, dit moet vrek lekker wees om so magtig te wees en die staatskas soos jou eie spaarvark te kan misbruik.

’n Klomp dierbare weldoeners, vriende en engele het vir my en vroulief die naweek na hierdie ongelooflike, luukste bosveld-wegbreekplek gestuur waar ons gedoriewaar in die presiden­siële suite beland het.

Praat van bederf en genade onbeskryflik groot! Die yskas vol Franse sjampanje (ek het darem nie soos die Moergabe-broers daarin gebad nie) as jy klaar gaan wild kyk het, die koninklike jaagkoesie vol roosblare (wat vir my ’n bietjie volksvreemd was, want hulle dryf toe op plekke in waar ek nog wou gewas het), die koning se troon daar in die klein plekkie met ’n uitsig tot anderkant Harare en die bed ’n reuse- vierstyl met sag gedrapeerde muskietnet uit die dak (waarin ek terstond drieuur die oggend verstrengel geraak het toe ek wou gaan kyk of die koning se troon nog op sy plek is).

Maar terwyl die water daar tussen die rotse onder die stoute buitestort op my en Poplap neerplons, kom ’n aaklige gedagte vlietend by my op: Watter rêrige presidente het nie dalk al in die verlede ook hier gestort nie?

Maar soos ek sê, dis was gelukkig net ’n ou vlietende gedagtetjie voordat ek weer my volle, onverdeelde aandag aan Poplap gegee het.

Ek het geen probleem as dit wyle Madiba en tant Grassie was nie. Maar, o wee, dalk ou Moergabe met sy plooiboude en sy Grace met haar duikbril? Of óns Nommer Een met sy eie stortkop en sy hele harem wat ’n Zoeloe-riel moet dans om elkeen ’n bietjie nat te word onder die twee stortkoppe?

En skrikwekkend: Gaan Moergabe-hulle met als wat daar by hulle gebeur nie dalk hier aangesit kom en ons uit ons wonderlike blyplek gegooi word om vir hulle plek te maak nie?

Maar soos ek sê, dis was gelukkig net ’n ou vlietende gedagtetjie voordat ek weer my volle, onverdeelde aandag aan Poplap gegee het.

Dit lyk vir my so half of die kastige staatsgreep hier noord van ons eintlik nêrens heen gaan nie. Daai weermag is baie soos die Bokke: nes jy dink hulle is op die wenpad, retireer hulle weer en stel teleur.

Maar ter versagting, die Bokke het darem gelukkig nie ons mooi naweek gaan staan en bederf nie en ja, as ek die bevelvoerder van Zimpapwe se weermag was, sou ek ook nie gewaag het om die paleis te bestorm terwyl antie Grace nog haar elektriese koord by haar het nie.

Volgens ons bronne in Harare is daar ’n skietstilstand en word daar onderhandel oor die moontlikheid dat die antie haar Sandtonse kredietkaart mag hou as sy vrywillig van die koord sal afstand doen.

Intussen soek die weermag die voorsanger wat die afgelope 20 jaar “Lank sal hy lewe!” op die ouman se verjaardag gesing het.

Meer oor:  Blouwillemaandag  |  Zimbabwe  |  Staatsgreep  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.