Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zondo sal Zuma nou moet vasvat
Henry Jeffreys

Adjunkhoofregter Raymond Zondo se frustrasie met oudpres. Jacob Zuma se vertragingstaktiek om voor die Zondo-kommissie te verskyn, is duidelik op. En dit is omtrent tyd.

Die voormalige staatshoof het tot nou allerlei verdagte verskonings aangebied oor waarom hy nie weer voor die kommissie moet verskyn nie.

Zondo het klaarblyklik nou sy streep in die sand getrek vir Zuma om tog in persoon sy verskyning te maak. Zondo het dit ook duidelik gemaak dat hy onder geen omstandighede bereid is om met Zuma in onderhandeling betrokke te raak oor sy verskyning al dan nie. Hy het dit duidelik gemaak dat indien Zuma nie sy verskyning maak nie, kan hy ’n dagvaarding verwag.

Dit moes uit die staanspoor die kommissie se benadering gewees het. Zuma is duidelik onder die wanindruk dat hy verhewe bo ander getuies is en nie dieselfde behandeling verdien nie.

Dit sal ’n fout wees om te verwag dat Zuma nou sommer geredelik sy volle samewerking sal gee.

Zondo se weifeling om hom fermer te behandel, het Zuma waarskynlik in sy kwaad gestook. Laat ons egter duidelik wees: Daar is niks spesiaals aan Zuma nie. Hy is wel ’n voormalige staatshoof, maar is net soos enige ander landsburger nie bo die reg verhewe nie.

Zuma se ondersteuners is woedend oor die kommissie se vasberadenheid om hom tot verantwoording te dwing. Zuma se seun Edward het selfs gesê Zondo het die Grondwet oortree en dat hy hom aan die kommissie moet onttrek. Zuma het hom intussen by dié kritiek geskaar.

Dit nieteenstaande die sterk aanduidings dat Zuma sentraal staan in al die bewerings van staatskaping wat vermoedelik op sy wagbeurt in die Uniegebou gefloreer het.

Meer nog, daar is sterk prima facie-bewyse dat hy persoonlik betrokke was by voorvalle van staatskaping, veral wat betref sy hoogs omstrede persoonlike verhouding met die Gupta-broers.

Zuma het nog sommer baie vrae om te beantwoord. Die Zondo-kommissie se werk sal onvolledig wees sonder ’n volledige ondersoek na Zuma se moontlike betrokkenheid. Zuma se bewind het die land in ’n enorme ekonomiese krisis gedompel en gereduseer tot een van die wêreld se korrupste lande.

Dit is dus van die uiterste belang om te weet hoe hy dit gedoen het en om hom verantwoordelik te hou vir enige onderduimse en onwettige aksies wat sy bondgenote, soos die Guptas, met sy goedkeuring onregmatig gepleeg het.

Met sy vorige en enigste verskyning voor die kommissie was Zuma ontwykend en verdoeselend.

Met sy vorige en enigste verskyning voor die kommissie was Zuma ontwykend, verdoeselend en duidelik nie bereid om pa te staan vir sy vermeende aandeel in die endemiese korrupsie wat sy bewind gekenmerk het nie.

Dit sal ’n fout wees om te verwag dat Zuma nou sommer geredelik sy volle samewerking sal gee. Hy sal alles doen om te verseker hy word nie betrek nie. Hy blyk vasberade te wees om homself te verontskuldig en voor te doen as die slagoffer van ’n heksejag. Hy moet onder geen omstandighede toegelaat word om dit te doen nie.

Zondo moet ook verseker dat Zuma nie die kommissie misbruik as ’n platform om fopnuus oor sy betrokkenheid te verkondig nie. Natuurlik is hy geregtig op ’n regverdige en billike verhoor.

Hy is egter nie geregtig op enige bevooroordeling op grond van sy voormalige amp as staatshoof nie. Hy het op sterk vermoedens die land en die amp van staatshoof in oneer gedompel en moet tot verantwoording geroep word.

Ontledings toon dat Zuma met sy eerste verskyning voor die kommissie meer as 30 keer op vrae gereageer het deur net te sê “Ek weet nie” of “Ek kan nie onthou nie”. Zondo het hom daarmee laat wegkom. Hy sal duidelik minder passief moet wees wanneer die oudpresident weer sy beurt kry om in die kommissie se getuiestoel te sit.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Korrupsie  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskapers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.