Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zozibini se afval laat my mond water
Johan van Wyk

Mej. Heelal wat afval kook in ’n swart driebeenpot oor ’n vuur? Nader aan die groot waarheid dat jy nooit jou herkoms afsweer nie, is daar nie.

Dis mos wat Zozibini Tunzi, pas terug uit New York, op ’n besoek aan haarouerhuis naby Tsolo in die Oos-Kaap gedoen het. Die koerantfoto daarvan het my mond laat water.

My lus is aansienlik gedemp deur die prys. Jy kon ’n tweedehandse Volkswagen Kewer koop vir wat skaapafval nou kos. Nie dat ek te veel daaroor wil kla nie. Ek swyg al hoe meer oor wat dinge vroeër gekos het en hoe alles verander het. Ek is moeg om uit my kinders se mond te hoor ek moet “bykom”. “Pa, jy moet bykom!”

My vrou vertel my dit ook gereeld. Wanneer ek weier om my selfoon saam te dra en na my tikmasjien verlang, moet ek hoor: “Jy moet bykom!”

In ’n teenaanval sal ek dan terugkap: “Jy moet bykom, of ek knip jou kredietkaart aan stukkies met ’n skêr!” Dit het gewoonlik die gewenste uitwerking.

Toe ons, jonk getroud, ná haar eerste afval-ete by my ouers in die slaapkamer kom, wou sy weet hoekom ons “velle en bene” eet.

Ekskuus, “impak”. Wanneer het jy laas die woord “uitwerking”, “gevolg”, of “resultaat” gehoor? Bestaan dit nog in Afrikaans? “Impak”, het ek geleer, is min of meer die nagevolge van ’n ontploffing of ’n treinongeluk. Nou word dit vir elke bakatel rondgegooi. In RSG se Kommentaar op ’n Sondagaand het ’n bekende politieke kommentator (met ’n doktorsgraad) dit in ’n kwessie van minute 11 keer gebesig. Ek het getel.

En dan is daar die kommentators se ander liefling in eindelose gesprekke wat na nêrens lei nie: “in terme van”. Byvoorbeeld: “In terme van die impak . . .”

“Ten opsigte van” het ek laas tydens die Runderpes van 1928 gehoor. Wat besiel veronderstelde geleerde mense om so oorhoops te raak met pretensieuse modewoorde en -uitdrukkings en dit tot vervelens toe klakkeloos na te volg ?

Wel, “in terme van die impak” van Mej. Heelal se inspirerende afvalkokery, teen die agtergrond van my ewe beskeie herkoms en verbintenis met afval, het ek toe ten duurste een gaan koop, dit heelnag (natuurlik saam met klein, wit baba-aartappeltjies) in ’n prutpot vertroetel en die volgende oggend man-alleen vir ontbyt opgeëet.

My vrou, ’n Transvaler, eet gelukkig nie afval nie. Toe ons, jonk getroud, ná haar eerste afval-ete by my ouers in die slaapkamer kom, wou sy weet hoekom ons “velle en bene” eet. As sy dit my nou, 50 jaar later, weer sou vra, sal ek haar na Mej. Heelal vir ’n verduideliking verwys.

Ek het ’n vermoede dis nie al waaroor Mej. Heelal op grond van haar afvalkokery ’n kundige mening sal kan uitspreek nie. Ek sal my kop op ’n blok sit sy ook weet hoe om afval te skraap en die fyn haartjies met ’n Minora-lemmetjie af te skeer.

So keer ons maar almal terug na ons wortels.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Herinneringe  |  Eet  |  Afval  |  Kos  |  Mej. Heelal  |  Vel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.