Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zuma-boeke skep angswekkende beelde van SA

As jy die nuutste boeke oor pres. Jacob Zuma lees, kry jy vreesaanjaende apokaliptiese beelde van ’n toekomstige Suid-Afrika, skryf Gert van der Westhuizen.

Die voorblad van Jacques Pauw se boek. Foto: Tafelberg

Pres. Jacob Zuma is glad nie goed vir Suid-Afrika se ekonomie nie, spot iemand verlede week. Maar hy doen wondere vir die land se boekemark.

Boekwinkels se rakke kreun inderdaad onder boeke oor Suid-Afrika se president, sy regering en wat ons in die toekoms kan verwag ná Zuma se bewind van agt jaar. Daar is eintlik te veel om op te noem, maar enkeles staan tog uit.

Dit is glad nie lekker om te lees hoe een man sy party en die regering gekaap het nie. Onder Zuma se bewind, skryf Pauw, is ’n skadustaat geskep.

Jacques Pauw se The President’s Keepers het opspraak verwek en selfs spoke van die apartheidsverlede opgejaag toe boeke links en regs verbied is omdat dit die donker geheime blootgelê het van diegene wat ons regeer.

Ronnie Kasrils, bekende strydros van die SAKP en MK, het vertel van sy herinneringe aan Zuma in die dae van ballingskap in A Simple Man.

Adriaan Basson en Pieter du Toit se Enemy of the People vertel ons weer in meer as 290 ontstellende bladsye van die Zuma-regime se vergrype.

Adriaan Basson en Pieter du Toit se boek oor die bewind van pres. Jacob Zuma. Foto: Jonathan Ball

Dié drie boeke ontstel ’n mens nie net nie. Dit maak jou ook depressief en laat jou sonder veel hoop vir die toekoms.

Dit is glad nie lekker om te lees hoe een man sy party en die regering gekaap het nie. Onder Zuma se bewind, skryf Pauw, is ’n skadustaat geskep. In die proses is die land se wetstoepassingsagentskappe vir alle praktiese doeleindes vernietig en ly Suid-Afrikaners onder misdadigers wat deur ’n ondoeltreffende polisiediens nie aan bande gelê kan word nie.

Suid-Afrika word ook al hoe meer ’n land waar intelligensiedienste met bedenklike metodes en belaglike “intelligensie-verslae” regeer. Basson en Du Toit wys onder meer hoe so ’n verslag gebruik is toe Zuma van Pravin Gordhan as minister van finansies ontslae geraak het.

Die skade wat met die kaping van die polisie, intelligensiedienste en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aangerig is, neem toe met elke minuut wat Zuma aanhou regeer. Dit sal dekades neem om te herstel.

Baie van sy eertydse teenstanders sê graag hulle het nie destyds geweet hy sou doen wat hy vandag doen nie.

Veral Kasrils het ’n baie donker prentjie vir die toekoms van Suid-Afrika geskets toe hy sy boek bekend gestel het. Hy het bespiegel oor ’n land wat op die rand van bankrotskap staan en waarin onluste en oproer toeneem. Hy het ook nie ’n staatsgreep deur “Zuma se polisie” uitgesluit nie.

Dit is nie net dié apokaliptiese toekomsbeelde wat Kasrils se boodskap miskien die ontstellendste van almal maak nie.

Hy wys in sy boek ook duidelik uit hoe Zuma al dekades gelede van die karaktertrekke ten toon gestel het wat hom vandag in staat stel om ’n gekaapte regering te lei.

Ronnie Kasrils vertel in sy boek meer oor pres. Jacob Zuma in die dae van ballingskap.Foto: Jacana

Kasrils vertel hoe Zuma in die dae van ballingskap reeds waarde geheg het aan nuttelose “intelligensie-verslae”, hoe hy nooit iets gelees het wat aan hom voorgelê is nie, hoe hy daarvan gehou het om dinge in die geheim te doen, hoe hy onbehoorlike klem op etnisiteit geplaas het en hoe daar vrae ontstaan het oor sy integriteit en seksuele gedrag.

Al dié dinge is met die ANC se leiers, onder wie ook oudpres. Nelson Mandela, bespreek. En tog is niks gedoen om Zuma tot verantwoording te roep nie.

Baie van sy eertydse teenstanders sê graag hulle het nie destyds geweet hy sou doen wat hy vandag doen nie. Hulle klink amper soos die konserwatiewe Duitse politici van die jare dertig wat gesê het hulle sal Adolf Hitler in toom kan hou as hy kanselier word.

Sommige beweer hulle was blind vir Zuma se foute omdat hulle desperaat op soek was na ’n alternatief vir oudpres. Thabo Mbeki. Mathews Phosa, een van die presidentskandidate vir Desember se ANC-leierskapsverkiesing, sing graag dié deuntjie.

Tydens Zuma se verkragtingsaak het mense soos Zwelinzima Vavi en Julius Malema hom aggressief in die openbaar ondersteun.

Die SAKP was destyds gaande oor Zuma, ondanks die feit dat Kasrils die sentrale komitee van dié party tot ander insigte probeer bring het. Hoewel daar absoluut geen aanduidings was dat Zuma ’n linkse ekonomiese beleid sou volg of enigsins linkse neigings gehad het nie, was die SAKP oortuig daarvan dat hy ’n ander pad as Mbeki sou stap.

Blade Nzimande en Jeremy Cronin van die SAKP, twee van Zuma se grootste ondersteuners, was egter nie die enigstes wat hulle met hom “misgis” het nie.

Gert van der Westhuizen

Tydens Zuma se verkragtingsaak het mense soos Zwelinzima Vavi en Julius Malema hom aggressief in die openbaar ondersteun. Vavi het van ’n Zuma-tsoenami gepraat, Malema was bereid om vir hom te sterf.

Kabinetslede soos Jeff Radebe het niks gedoen om Zuma te probeer stuit nie. Ook nie vooraanstaande ANC-lede soos die sektretaris-generaal, Gwede Mantashe, kon of wou veel doen nie.

Cyril Ramaphosa, die groot hoop vir die anti-Zuma kamp, is al vanaf 2012 Zuma se adjunk. Tog het hy eers vanjaar begin uitpraat teen sekere vergrype.

Almal het geweet, besef jy, as jy Kasrils se boek uiteindelik toemaak.

Maar niemand het iets daaraan gedoen nie.

* Van der Westhuizen is ’n artikelskrywer van Netwerk24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.