Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zuma dra dekor van verhoog af
Johann Maarman

Dat adjunkhoofregter Raymond Zondo ’n uitmuntende juris is, is geensins te betwyfel nie. Hy is immers die Nommer 2 van die regbank in Suid-Afrika. Oor of hy egter ’n straatvegter is of wil/kan optree soos een, is die jurie nog uit, want die man wat hy nou aan die kraag probeer gryp, is die Mike Tyson van politieke straatvegters. Die überboelie van Suid-Afrikaanse politiek.

Of jy nou van Jacob Zuma hou of nie, die man het net ’n manier om hom los te woel uit verskeie knope – of eerder hy en sy regsmense probeer tot elke prys verhoed dat hulle in ’n hoek gedryf word. En as dinge begin lyk asof dit gaan neuk vir hom, is hy soos daai boksers wat weet hulle is teen die toue, maar verbete bly vashou aan hul teenstander. Wagtend dat die klok hom moet red voor hy uitgeslaan word.

Hoewel dit nou wil voorkom asof Zondo op punte voorloop in die geveg teen Zuma, is ek glad nie daarvan oortuig dat die agbare hoofregter die uitklophou kan plant nie.

In die agterstevoor, onderstebo wêreld van Zuma, is Zondo ’n gekompromitteerde regsman omdat hy jare gelede – ja, u lees reg, jare gelede – ’n kind verwek het by een van Zuma se vroue se suster.

Dit was die giftigste pyl wat Zuma uit sy koker gehaal het om Zondo verdag te probeer maak.

Zondo kan dit volgende week wel regkry om Zuma te dwing om voor die kommissie te verskyn, maar Zuma het nog opsies.

Zuma gee eintlik nie ’n flenter om vir die regbank nie. Dit gaan hier deur en deur om sistemies gif los te laat wat nie net die regbank moet verlam of verswak nie, maar ook om ons belangrikste, mees gerespekteerde demokratiese instelling onder verdenking te plaas.

In sy kop is hy gebelg dat hy voor ’n kommissie moet verskyn om sy presidensiële termyn van patronaatskap te kom verduidelik. Hoekom juis hy?

Soos Bathabile Dlamini en Ace Magashule dit netjies verwoord het: Almal in die ANC het geraamtes in hul kas en daar is nie een mens in die ANC wat nié by die trog gestaan en eet het nie.

Dít is ook die tema wat die ANC se Laurel en Hardy – Carl Niehaus en Mzwandile Masina – tot vervelens probeer verkwansel.

Zuma se arrogansie en hubris ken nie perke nie. Hy het mag gehad, maar het dit nou verloor, maar hy voel gebelg dat hy wat die rasieleier van ekonomiese transformasie was, vir die wolwe gegooi word.

Zondo het nog net tot einde Maart om mense te dagvaar om voor die kommissie te verskyn. Dit is die kommissie se sperdatum. Hulle kan nie ’n tree verder as Maart gee nie – en die Zuma-mense weet dit.

So wat is die beste taktiek? Frustreer Zondo so lank as moontlik en soos aan die begin gesê: skop telkens vir die kantlyn as jy in die moeilikheid is.

Zondo kan dit volgende week wel regkry om Zuma te dwing om voor die kommissie te verskyn, maar Zuma het nog opsies.

Hy kan Zondo weer in sy peetjie stuur of hy kan wel daar in die warm stoel gaan sit by die kommissie en sy swygreg uitoefen en weier om homself te inkrimineer.

Dit sal beteken dat Zondo sy bevindinge moet skryf sonder Zuma se weergawe – wat natuurlik musiek in die ore van die Zuma-mense sal wees omdat hulle sal kan uitbasuin dat Zuma deur sy stilswye nie legitimiteit aan ’n kommissie wou gee wat hom wil verdrink nie.

Zondo mag dalk nou op die voorvoet wees, maar die Zuma-mense is reg om die dekor, die akteurs en die rekwisiete van die Zondo-kommissie van die verhoog af te dra.

Dus: Los maar eers die vroegtydige jubelgesange vir Zondo. In struggle-taal: Die stryd gaan voort.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Jacob Zuma  |  Raymond Zondo  |  Korrupsie  |  Kommissie  |  Politiek  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.