Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uit my politieke pen
Zuma draf weer op vir ’n pypkan

Sy onlangse verskynings as “gas­dosent” by ’n universiteit of twee het Dawie weliswaar ’n deeglike les laat leer: Hoe diep, diep dankbaar Suid-Afrika moet wees dat die land van Jacob Zuma in die presidentstoel ontslae is.

Deel van die Zuma-leerplan is toe mos die boodskap dat daar nie eintlik iets soos staatskaping bestaan nie, en dat dit eintlik net een groot verbeeldingsvlug is. Dít ondanks die skokkende getuienis wat nou voor die Zondo-kommissie gelewer word.

Maar hoe skreiend Zuma se jakkalsdraaie ook al mag wees, kan niemand werklik nog verbaas wees daaroor nie. Die vermyding van aanspreeklikheid is immers al onder sy leierskap tot ’n fyn kuns ontwikkel.

Is dit dalk dié kundigheid wat hom kwalifiseer as “gasdosent”? Op die gebied van ontkenning en ontwyking het hy bepaald in die voorhoede gelei.

En wat het gebeur toe sy Gupta-pelle doodluiters op een van ons lugmagbasisse neerstryk? Jy dank net ’n paar amptenare af. Hoekom sélf pa staan?

Die man wat dalk na dese bekend moet staan as prof. Zupta het byvoorbeeld deurgaans botweg geweier om ’n deel van die Nkandla-geld terug te betaal, ongeag die openbare beskermer se verdoemende bevindings. Eers toe die hof hom beveel het om dit te doen, het hy langtand ’n leninkie by ’n agterplaasbank loop uitkrap.

En wat het gebeur toe sy Gupta-pelle doodluiters op een van ons lugmagbasisse neerstryk? Jy dank net ’n paar amptenare af. Hoekom sélf pa staan?

Uit die hoogste amp in die land is die toon dus aangegee wat ’n kultuur van onaanspreeklikheid en onverantwoordbaarheid betref. Dít het so ingewortel geraak dat die ANC al eintlik sy eie taal van onaanspreeklikheid aangeleer het.

Hoe bedoel Meneer nou, “onbedoelde gevolge”?

Soms neem dié taal redelik absurde afmetings aan. Soos toe minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula ’n botsing waarin die duikboot SAS Queen Modjadji was, beskryf het as “onbeplande kontak met die seebodem”. “Onbepland” is mos ’n lekker woord, want dit sê niemand is eintlik verantwoordelik nie.

’n Ander flousfrase in die leksikon van onaanspreeklikheid is “onbedoelde gevolge”. Let ’n bietjie op hoe lief regeringsamptenare vir dié frase is wat vaagweg te kenne gee iets het misluk, maar die omstandighede was heeltemal buite die beheer van die regering. Soos toe daar ná ’n fiasko met visumregulasies na die “onbedoelde gevolge” van die nuwe regulasies verwys is.

Hoe bedoel Meneer nou, “onbedoelde gevolge”? wil Dawie graag weet. Word die president, die ministers en hul wyse raad­gewers nie betaal om gevolge te sien kom en te verreken nie?

Nee, wesenlike mislukking is iets wat die ANC nie graag erken nie, en daarom word ’n taal ontwikkel wat dit mooi wegsteek. Oorweeg ’n bietjie die woord “omkeerplan” wat nou al soveel keer oor die SAL geuiter is dat g’n mens meer weet in watter windrigting die lugdiens nou eintlik vlieg nie.

Die voorvoegsel “her-” is ook ’n baie nuttige instrument om volslae mislukking te verbloem. G’n ANC-lid misluk mos ooit en word daarvoor verantwoordelik gehou nie – hulle word bloot “herontplooi” ná sekere “uitdagings”.

Juis nou terwyl Zuma se terugvegveldtog met kornuite soos Ace Maga­shule en Supra Mahumapelo momentum opbou, kennelik ook op ons kampusse, moet Suid-Afrika herinner word aan die spoor van verwoesting wat Zuma en die Guptas agtergelaat het.

Dit vra dat pres. Cyril Ramaphosa die skoonmaakproses enduit voer. Almal teen wie daar prima facie-bewyse van korrupsie of ander misdadige optrede bestaan, moet ook strafregtelik vervolg word. Dis al manier om ’n kultuur van onverantwoordbaarheid te stuit.

Maak geen fout nie – Suid-Afrika is polities, maatskaplik en ekonomies in ’n krisis wat tot die Zuptas herlei kan word. Mag hulle eendag tóg die prys hiervoor betaal.

Meer oor:  Politiek  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.