Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zuma het habba tussen sy ore
Johann Maarman

Het Suid-Afrika dalk die wedergeboorte van die United Democratic Front (UDF) in ’n ander gedaante die afgelope week aanskou? UDF 2.0?

Net soos die UDF destyds ’n konglomeraat van burgerlike organisasies, vakbonde, religieuse instansies en politieke partye was, het Suid-Afrika Vrydag gewys hoe lyk ’n verenigde front teen staatskaping en teen ’n president wat sy land vir die wolwe gegooi het.

Net soos die UDF waar wit en swart, gay en lesbies, Jood, Christen, Moslem en ateïs, witboordjie- en blouboordjie-werkers, arm en ryk, jonk en oud, hulle verset het teen die ongeregtighede, het Suid-Afrikaners soos een opgestaan en hul griefskrif gaan vasspyker teen die politieke deur van die ANC van Jacob Zuma.

Iewers Vrydag het hierdie verenigde front my geroer. Omtrent 34 jaar gelede het die UDF opgestaan teen ’n verstikkende politieke stelsel en teen ’n PW Botha wat die land met ’n ystervuis regeer het.

Vrydag het Suid-Afrika weer opgestaan teen ’n president en sy politieke kartel wat hierdie land na ’n ekonomiese rommelhoop gesleep het. Vrydag kan inderdaad beskou word as die dag waarop die tektoniese plate in Suid-Afrika begin skuif het.

Dit was destyds in die St. George-katedraal in Kaapstad – een van die teaters van die struggle – net ná die Bisho­-slagting waar die proteslied “Senzeni Na” (Wat het ons gedoen?) met soveel trane in die oë gesing is.

Vrydag het Suid-Afrika weer gevra: Senzeni Na? Wat het ons gedoen om ’n regering te verdien wat sy siel, sy hart, niere en longe verkoop het aan ’n Gupta-familie wat maak asof Suid-Afrika in hul besit is? Asof Suid-Afrika maar net nog ’n firma van hul sakeryk is?

Wat het ons gedoen om onder die voetsole te beland van ’n demokratiese diktatorskap? Miskien ietwat van ’n oksimoron, maar dit is presies wat dit is. Dit is nie ooraktiewe verbeelding dat ons in ’n demokratiese diktatorskap is nie. Die ANC van ’n beteuterde Jacob Zuma (nié die ANC van Oliver Tambo, Nelson Mandela, Walter Sisulu, Ahmed Kathrada nie) saai vrees in onse harte. Die ANC, eens ’n tuiste vir die hongeres, vir die beseerdes en vir die geteisterdes, behandel sy burgers nou asof hulle vyande van die staat is. Wie nie vír Zuma is nie, is vyande van die bevrydingsbeweging. Dis asof ons dan nou bevry moet word van die bevryder. Wat het ons gedoen om ’n president te kry wat nie één groot gedagte in sy kop het nie, maar eerder sal onthou word vir sy retoriek, soos dat iemand sy masjiengeweer moet bring? Verder het hy zilch. Niks. Habba.

Kyk maar net hoe Zuma se oorlogsveterane (’n hoofstuk so reg uit die boek van die patetiese Robert Mugabe) kamma Luthuli-huis wou beskerm teen die optoggangers. Hulle is beslis nie ANC-oorlogsveterane nie, maar ’n spul stommerike met varkagtige gedrag wat twee of drie wit optoggangers foeter.

Wat het ons gedoen dat ons moet pa staan vir ’n politieke party wat vrot is van faksies? Waar die kernmotief groot geld, tenders, toegang tot die staatskas en SEB-transaksies is?

Wat het ons gedoen dat 17 miljoen mense wat ’n welsynstoelae van die staat kry eers op nr. 99 hoor dat hulle broodnodige geldjies darem betyds in die bank sal wees – dit net omdat ons met ’n onbekwame minister sit. En toe word sy ná die skandaal nog boonop bevorder ook!

Maar daar is ’n remedie vir hierdie verderflike politiek van Zuma. In 2019 het die ANC ’n afspraak met die kiesers by die stembus. Ons is nie die NUK van die ANC wat mooi broodjies bak nie. Mag 2019 tog gou kom.

Meer oor:  Johann Maarman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.