Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zuma-hofsake vertel ’n storie

Ek vermoed oudpres. Jacob Zuma hou ’n wêreldrekord vir die aantal kere wat ’n staatshoof in die een of ander hofsaak betrokke is. Dit het begin by sy betrokkenheid by die Schabir Shaik-saak, wat gekoppel was aan die wapenskandaal, met 783 klagte van korrupsie in die vorm van onwettige betalings teen hom. Daar is bevind dat daar ’n wedersydse korrupte verhouding tussen Zuma en Shaik was. (Zuma is dus ook skuldig, want die verhouding werk na albei kante toe).

In 2006 was dit die verkragtingsaak wat in sy guns beklink is en wat die stryd teen verkragting in Suid-Afrika met jare teruggesit het. Tussen 2014 en 2018 was daar 41 uitsprake waarby hy betrokke was. Van die 41 uitsprake was net agt in sy guns.

Dit is dus geen verrassing om van die getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verneem dat miljoene rande se staatsgeld op Zuma se versoek deur die Staatsveiligheidsagentskap gebruik is om regters te beïnvloed omdat hy glo daar is ’n sameswering teen hom op die regbank nie.

Tot dusver het Zuma ’n regstelsel beleef waar hy die beste daarvan afgekom het. Ons het die Stalingrad-strategie (om jou saak so lank as moontlik uit te stel) aan die ontslape adv. Kemp J. Kemp te danke. Zuma en sy regspan het dit tot ’n perfekte strategie ontwikkel.

Hy het ’n tegniese punt in sy guns gehad toe regter Chris Nicholson die klagte van korrupsie teen hom laat vaar het, want volgens Nicholson moes Zuma die kans gehad het om voorleggings voor die nasionale vervolgingsgesag te kon doen voordat hy weer aangekla is.

Met die verkragtingsaak het hy losgekom weens ’n gebrek aan bewyse. Regter Willem van der Merwe het hom vrygespreek, deels omdat hy toegelaat het dat die ervaring van die klaer genegeer is en omdat sy as “a serial rape accus­er” bestempel is en deels omdat hy Zuma­ se kulturele konstruksies van seks sonder instemming aanvaar het. Hy het Zuma op ’n paternalistiese manier soos ’n stout kind behandel.

Al die oorwinnings het die pad na die presidentskap vir Zuma oopgemaak.

ANC-lede was bewus van die soort persoon wat Zuma is. Mbeki het hom afgedank as adjunkpresident. Desnieteenstaande het hy president geword.

ANC-lede was bewus van die soort persoon wat Zuma is. Mbeki het hom afgedank as adjunkpresident. Desnieteenstaande het hy president geword, hoofsaaklik weens die faksies in die ANC. Hy het voortgegaan met sy korrupte gedrag en die land op sy knieë gebring. Asof die verslag van prof. Thuli Madonsela, vorige openbare beskermer, dit nie duidelik genoeg gestel het dat Zuma fundamenteel korrup is nie, is die getuienis voor die Zondo-kommissie die spreekwoordelike smoking gun.

Zuma maak nou asof hy die verontregte een is – die slagoffer van ’n sameswering om hom aan die pen te laat ry. Hy kla ook oor karaktermoord deur sy politieke opponente. Maar hierdie opponente is te bang om teen hom op te tree. Hulle sal hom bes moontlik laat wegkom met die ignoreer van ’n bevel van die konstitusionele hof.

Dit speel reg in die hande van mense soos Ace Magashule, wat die Zuma-saak gebruik om te peil wat met hom (Magashule) en klagte van korrupsie teen hom sal gebeur. Dit vergroot die vertrouensbreuk tussen die landsburgers en die regering. En dit laat pres. Cyril Ramaphosa lyk asof hy nie in beheer is nie.

Zuma sal voortgaan met die Stalin­grad-strategie. Al die regsgeleerdes wat Zuma so mildelik laat loskom het, moet hulself afvra watter bydrae hulle gelewer het tot die ramp waarop ons afstuur, asook die aandeel aan die verkwisting van belastingbetalers se geld. Dit is die verskil tussen die onbuigsame reëls van die reg en moraliteit.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Regsbank  |  Korrupsie  |  Vrygespreek  |  Zuma-Hofsake  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.