Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max meen Zuma is méér as benoud
Pres. Jacob Zuma soek na enige manier om aan te bly as president, redeneer die skrywer.Foto: Lulama Zenzile

Benoude katte maak benoude spronge, lui die gesegde. Maar pres. Jacob Zuma is méér as benoud, hy is plein paniekerig.

Verlede Vrydag het Zuma nie net sy eie party se amptelike beleid blatant weerspreek nie, hy het gedoen wat geen ANC-leiersfiguur in 23 jaar gedoen het nie: hy het in effek geëis dat een van die Grondwet se mees kritieke steunpilare vir stabiliteit, eiendomsreg, geskrap word.

Die Robert Mugabe-opsie, dus. In Februarie 2000 het Mugabe en sy regerende Zanu-PF ’n referendum verloor toe die kiesers voorstelle dat sy magte versterk en grond in wit hande sonder vergoeding onteien word, verwerp het.

Sy reaksie was om die gewelddadige besetting van wit boere se plase aan te moedig en om die regbank deur die kniekoppe te skiet, stappe wat Zimbabwe in ’n mislukte staat laat ontaard het.

Dit begin nou regtig lyk asof Zuma vasbeslote is om aan te bly as president van die land nadat hy in Desember as ANC-leier vervang is. Hy staar tronkstraf in die gesig en is besig om die stryd vir die siel van die ANC te verloor.

As hy toegelaat word om staatshoof te bly, sit ons tot middel 2019 met hom.

As hy toegelaat word om staatshoof te bly, sit ons tot middel 2019 met hom.

Hier kom ’n groot breekspul, maar miskien is dit ’n voorvereiste vir ’n post-Zuma heropbou.

Die Mugabe-vergelyking gaan dalk verder: laasweek het Zuma onverwags aangekondig dat hy drie veteraan-advokate, Dumisa Ntsebeza, Ismael Semenya en Andiswa Ndoni, van die Regsdienstekommissie verwyder – dis nou die kommissie wat aspirant-regters keur en aanbevelinge aan die president maak.

Een van die nuwe lede wat hy wil aanstel, is Gcina Malindi, wat hom in die omstrede Zuma Spear-hofsaak verteenwoordig het.

Kan dit wees dat die Zuma-faksie in die ANC nou die regbank met meer gewillige regters wil laai? Maar dit is ’n langtermyn-strategie, wat uit Zuma se oogpunt net kan sin maak as hy nog ’n paar jaar president gaan wees.

Ons sien die Zuma-roekeloosheid ook elders manifesteer. Die minister van sosiale ontwikkeling, Bathabile Dlamini, wys ’n vet middelvinger vir die konstitusionele hof, die parlement en die burgery terwyl haar kollega Des van Rooyen en Zuma self haar aanprys.

Dit lyk tog asof Dlamini die krisis oor twee jaar vervaardig het om seker te maak dat Cash Paymaster Services die waardevolle kontrak behou. Hoe vind sy baat (of Zuma) daarby?

(Is dit nie verstommend nie dat die ANC vasskop dat die staat ’n peperduur nasionale lugredery móét hê, maar die verskaffing van sosiale toelaes word geprivatiseer?)

Ander voorbeelde is dat die Nasionale Inkomstediens besig is om ineen te stort, maar Zuma se handlanger daar, Tom Moyane, speel nog magspeletjies met die minister van finansies; en dat die minister van staatsekuriteit, David Mahlobo, weer praat van buitelandse magte wat die regering wil laat val en van sy voorneme om die internet en sosiale media te reguleer.

As ons kyk hoe roekeloos Zuma nou begin optree, lyk dit al meer asof hy dalk in die weke wat kom, wel vir Pravin Gordhan, Mcebisi Jonas en ’n paar ander ministers wat nie in sy binnekring is nie, in die pad gaan steek, ongeag die gevolge vir die ekonomie.

Maar mense moet hulle nie te gou lam skrik vir Zuma se gronduitsprake nie.

Dit is ’n uiters komplekse kwessie en hy gaan nie maklik in sy termyn die Grondwet verander kry nie. Dis meer ’n weerligafleier en ’n populistiese foefie.

’n Laaste gedagte. Wat gaan Julius Malema doen nou dat sy grootste politieke vyand oor grondonteiening met hom saamstem? Is dit ’n soort dubbele blufspel?

Meer oor:  Politiek  |  Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.