Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zuma moet terug klas toe

As Suid-Afrika nóú ’n toets moet skryf oor skoon regering en demokrasie sal ons waarskynlik net-net deurkom – of druip. Daar kan geen twyfel meer wees nie: onder die leierskap van pres. Jacob Zuma toon ons demokrasie agteruitgang wat dit in gedrang kan bring. Die oorkoepelende struktuur van die demokrasie is op die oog af nog in plek, maar ook net-net.

Ons hou nog gereelde veelpartyverkiesings, die Grondwet bly nog die hoogste wet van die land en die regering gee nog gehoor daaraan (hoewel Zuma se verbintenis daartoe deur die konstitusionele hof as gebrekkig bevind is). Die meeste Suid-Afrikaners geniet nog die basiese vryhede wat hulle onder apartheid misken is, vryheid van spraak is hier sterker as in enige ander land op die vasteland.

Maar ons is op vele ander fronte kwesbaar. Staatskaping, die oorname van die staat deur spelers wat hulself wil verryk deur die staat se koffers oor te neem en vir eie gewin te stroop, is deel van ons alledaagse politieke woordeskat en erger, die president blyk sentraal te staan in dié magspel en die aanslag op die legitimiteit en integriteit van die demokratiese staat.

Ek wonder dikwels hoeveel moeite die ANC as bevrydingsbeweging voor 1994 gedoen het om die aard van die demokrasie behoorlik te verstaan. Dis so asof hulle die idee aanvaar het omdat dit goed geklink het, maar sonder om die volle omvang te begryp.

Ons was gelukkig met Nelson Mandela, ’n leier wat die demokrasie duidelik beter begryp het as van sy kamerade. Die ANC van vandag het ’n ongesonde beheptheid met die mag wat die demokrasie wettiglik aan jou besorg.

En hoe daardie mag misbruik kan word om jouself te verryk, is vir baie ’n verdiende beloning vir die opoffering van die bevrydingstryd. Onthou nog die woorde van die voormalige ANC-woordvoerder, wyle Smuts Ngonyama: “Ek het nie die vryheidstryd geveg om arm te bly nie.” Daarin lê opgesluit die rede vir baie van dit wat tans met ons demokrasie skort. Gierigheid en kortpaaie na kitsrykdom via die staat se koffers.

Die demokrasie is natuurlik ’n moeilike baas.

Ons het dringend nodig dat ons leiers hulself weer opvoed oor wat ’n gesonde demokrasie maak werk. Hulle moet terug klas toe om die basiese elemente van die demokrasie onder die knie te kry en Zuma moet voor in die klas sit. Hy sal onder meer die volgende moet leer: Die demokrasie respekteer en ondersteun die burgers se persoonlike en politieke vryhede soos vryheid van spraak en van assosiasie. Dit bevorder gelykheid voor die reg. Dit erken die reg van alle burgers om hul verkiesbaar te stel vir verkose openbare poste. Dit waarborg die oppergesag van die reg. Dit beywer hom vir gemeenskaplike respek teenoor ander en hul regte. Dit bevorder en erken die menslike waardigheid van alle individue. Dit is ongeduldig met korrupsie en die uitbuit van die staat vir selfverryking en gierigheid.

Die demokrasie is natuurlik ’n moeilike baas. Niks raak makliker net omdat jy besluit het om dit te aanvaar of te omarm nie. Inteendeel, dit stel hoë eise aan diegene wat dit as lewenswyse aanvaar. Outokrasie is soveel makliker. Jy span eenvoudig net die mag van die staat in om mense aan jou elke gier te onderwerp.

Maar, soos Zuma en sy bondgenote leer, ’n nasie wat die demokrasie bekom het, op die harde en duur manier soos wat dit in Suid-Afrika gebeur het, sal nie maklik daarvan afstand doen of bedees toekyk hoe die basiese beginsels goedsmoeds ondermyn word nie.

Dít is die les wat Zuma moet leer uit Maandag se verwerping van hom toe hy ’n skare op ’n Werkersdagbyeenkoms van Cosatu probeer toespreek het.

Meer oor:  Henry Jeffreys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.