Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zuma nou lelik in die geldknyp

Jacob Zuma, voorheen handeldrywend as Nommer Een, het vandeesweek ’n ernstige terugslag beleef toe die appèlhof gelas het hy moet ’n groot deel van sy regskoste, wat tot dusver deur die belastingbetaler gedra is (dis tot R25 miljoen), terugbetaal.

Dit kom nadat Zuma reeds twee jaar gelede gekla hy moet sy “sokkies en hoede verkwansel” om sy regskoste te delg. Sonder enige binnekennis oor die mark vir gebruikte sokkies en hoede kan Dawie stellig verklaar dat Zuma ná vandeesweek se uitspraak met nóg groter probleme sit.

dawie, rubriek
dawie, rubriek

Vraag is waar hy die geld vandaan gaan kry, want VBS Mutual Bank, wat hom te hulp gesnel het toe hy ’n deel van die Nkandla-geld moes terugbetaal, het intussen ondergegaan nadat dit na bewering ook deur politici geplunder is.

Bowendien is Zuma nie bekend om die sorgsame bestuur van sy eie geldsake nie. Dié kwessie het al opgeduik in die veelbesproke KPMG-ouditverslag wat voor die hof gedien het in die korrupsieverhoor van Schabir Shaik.

Daarin word beweer Zuma het talle tjeks uitgeskryf wat gehop het. Die bank het sy oortrokke kredietkaart gekanselleer én die destydse adjunkpresident versoek om dit terug te besorg.

“Die algemene patroon wat vorm aanneem uit ’n ontleding van Zuma se finansiële omstandighede is dat hy by tye skuld aangegaan het wat hy – op grond van sy terugbetalingsgeskiedenis – nie kon betaal met die middele tot sy beskikking nie,” lui die ouditverslag.

Intussen staan hy steeds tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en swendelary wat onder meer betrekking het op die omstrede wapen­transaksie van 1999. Vir iemand wat gesê het hy wil graag sy dag in die hof hê, het Zuma nogal ’n beduidende hoeveelheid tyd en geld bestee om uit die hof te bly. Sowat 18 jaar lank gooi hy al jakkalsdraaie.

Sou dit dan nie vir hom, gegewe sy onwrikbare geloof in sy eie onskuld, makliker en goedkoper gewees het om eenvoudig van meet af aan sy eie onskuld bo alle redelike twyfel in die hof te gaan bewys nie? Juis teen die agtergrond daarvan is dit te verwelkom dat die belastingbetaler verlos word van die las van Zuma se regskoste.

Hy het natuurlik die stryd teen vervolging nie net in die howe geveg nie.

’n Deel van sy strategie sedert hy in 2009 president geword het, was om volskaalse verwoesting te saai by wetstoepassers soos die nasionale vervolgingsgesag (NVG), die Valke, en selfs die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Om die waarheid te sê, hy het selfs verwoesting in sy eie party gesaai om homself so onaantasbaar moontlik te hou.

En natuurlik was dit vir hom moontlik om verwoesting op sulke groot skaal te saai omdat landsbelang – en selfs ANC-belang – vir hom eenvoudig niks beteken het nie. Vir Nommer Een was Nommer Een se belange deurentyd nommer een.

Maar hoe ook, sake raak nou lekker warm vir Zuma, want dit is mos nie meer sy skoothondjie, adv. Shaun Abrahams, wat aan die hoof van die NVG staan nie. Na wat Dawie verneem, het adv. Shamila Batohi en haar span hul sake mooi agtermekaar.

Gaan hy probeer om die regskoste-kwessie nou na die konstitusionele hof te neem? Gaan hy van die hof vra om sy saak aan te hoor nadat hy die hof se opdrag geïgnoreer het om voor die Zondo-kommissie te verskyn?

En dan ook terug by Zuma se geldsake: As hy wel die saak na die hoogste hof neem, gaan hy dalk meer as ’n paar ou sokkies en hoede bymekaar moet skraap vir die regs­rekening.

As Dawie hom goeie (en gratis) raad kan gee: Hou maar liewer jou geld vir die strafsaak, want jy gaan nog elke liewe sent nodig kry.

Meer oor:  Zondo Vs. Zuma  |  Dawie  |  Uit My Politieke Pen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.