Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zuma se skadu hang oor te veel wat lig is

Woensdagoggend, 17 Julie 2019.

Die winter het Jacobsbaai uiteindelik bereik. Dit is bitter koud. Tyd om weer ’n slag in my dagboek te skryf. Johnny Clegg is gister oorlede. Die tyding het vroegaand oor Netwerk24 gekom, via my selfoon.

’n Rukkie later bel E. “Gaan kyk buite,” sê sy. “Dis maansverduistering.”

Ek het lank buite in die tuin gestaan, in die donker, en gekyk hoe die aarde se skadu die maan verorber totdat net ’n laaste homp lig oorbly.

Dana Snyman

’n Mens wil-wil half ’n les daarin sien: Die aarde se skadu is ons. Soms is ons donker kant ’n bedreiging vir dit wat lig is.

Of so iets.

Nou is dit bewolk buite en ek maak vuur in die vuurherd op die stoep. Die honde op hul matras. My rekenaar op die tafel. In die sitkamer is die TV op eNCA ingeskakel. Oudpres. Jacob Zuma getuig vir die derde dag voor die Zondo-kommissie, en hy het steeds daardie lastige proeserigheid in die keel. Of sal ’n mens dit ’n kuggie noem? Sy kenmerkende kuggie.

Ek wonder of daardie kuggie nie ’n senu-reaksie is nie, asof sy lyf hom knaend aan die waarheid probeer herinner. Hy kan steeds, nes die vorige twee dae, sekere belangrike dinge rondom die gebroeders Gupta nie onthou nie. Kamma. Sukkel ook om sy ondervraers in die oë te kyk.

Hoe verdrietig: Hier in jou kroonjare – Zuma is al 77 jaar oud – moet jy probeer om iets van jou lewe anders te laat klink as wat dit is en was. Beleef Zuma nie tans iets soos ’n hel nie? Dien hy nie dalk reeds sy straf uit nie? En die arme man drink nie eens nie.

Zuma, Zuma, Zuma . . . Ek wil hom ook nie sommer net Zuma noem nie. Hy was immers ons president, ’n trotse man wat swaar grootgeword het en geveg het vir ’n nuwe land. Maar sy skaduwee hang oor te veel wat lig in die land is. En dan begin jy hom Zuma noem, asof hy julle tuinman in die 1970’s is. Dit voel nie reg nie. Dit is nie reg nie.

Carl Niehaus is saam met hom by die kommissie. Iewers op die agtergrond sit of staan hy en kyk na die gewese president met dieselfde stil fassinasie waarmee ’n mens na ’n maansverduistering kyk.

Die uitdrukking op Niehaus se gesig deesdae ontstel my. Die woord wat by my opkom is: walg. Gewalg. Lyk of hy gewalg is deur als wat hy rondom hom sien, insluitende homself.

En dan is daar Johnny Clegg. Johnny is nie dood nie, hy is net oor na die ander kant toe.

Oral is sulke mooi huldeblyke vir Johnny. Oral vertel mense, almal, wat Johnny Clegg vir hulle beteken het – nie net sy musiek nie, maar ook die manier waarop hy probeer het om iets mooi en oop en lig in die land los te leef.

Ek glo die meeste van ons in die land wil ’n bietjie soos Johnny wees. Ons elkeen moet net ons eie skadukant probeer oorwin.

Die weervoorspelling sê dit gaan môre nog kouer wees, maar ek het gelukkig genoeg hout.

Meer oor:  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.