Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Murray la Vita gesels met Hannes Jansen
'n Suksesvolle sakeman, 'n selfoon en 'n arm seun

Hannes Jansen, ’n dinamiese sakeman wat arm grootgeword het, het dit vir ’n arm seun moontlik gemaak om ook bo sý omstandighede uit te styg, skryf Murray la Vita.

Hannes Jansen en John Jansen Manganyi op Montagu tydens ’n besoek van John aan sy aanneemgesin. Foto: Verskaf

Dit het alles begin by “ ’n laaitie in matriek” en ’n selfoon.

Hannes Jansen (62), uitvoerende hoof van Montagu Droëvrugte en Neute, sit in sy kantoor op Mon­tagu en vertel ons die storie van hom en daardie seun.

“Ek het ’n vrou gehad wat op ons plaas op Alma, daar in Vaalwater se wêreld, vir my gewerk het. En so kry ek elke oggend die selfoon wat daar lê op die charger in die werkswinkel. En op ’n dag vra ek vir my vrou: ‘Wie se selfoon is dit?’ Ek praat darem nou van ’n paar jaar terug; ek praat van ses, sewe jaar terug en die mense wat vir my gewerk het, was nou nie eintlik mense wat kon bekostig om sel­fone te hê nie, so ek het gewonder waar kom dié selfoon vandaan.

“Nee, dis een van die vroue s’n wat hier in die lande by ons werk, vind ek uit. En toe sy nou die middag kom om die selfoon te kom haal, toe vra ek vir haar: ‘Waar kry jy dié selfoon? En hoe bekostig jy ’n simkaart?’ Toe sê sy vir my sy’t nie ’n simkaart nie. Toe vra ek: ‘Maar hoekom charge jy dan die telefoon?’ Sy sê nee haar seun gebruik dit in die aande as ’n liggie om mee te studeer vir sy matriek, want hulle het nie krag nie.

“Ek sê: ‘As dít is wat jou seun doen, wil ek hierdie outjie ontmoet.’ En so bring sy toe die outjie na my toe, sy naam is John . . . John Manganyi. Hy’s nou vandag John Jánsen Man­ganyi; ons het hom aangeneem.

“Ek sê toe vir John: ‘Jô! Jy moet darem moed hê as jy so met ’n selfoon studeer.’ Toe sê hy vir my: ‘Sir, the only thing between me and poverty is to study.’ Toe sê ek vir hom: ‘John, what are you going to do when you are finished with matric?’ Toe sê hy: ‘I don’t know but I want to go and ­study.’ Ek sê: ‘Okay, you do your ­matric and get good results; I’ll sponsor you for a degree.’

“En daai outjie het sy matriek geslaag in die eerste klas en ek het hom uitgevat na die Universiteit van Limpopo toe . . . Nou, jy weet, ons mense . . . As jy nie deur so ’n proses gaan nie beséf jy nie wát is die uitdagings wat die ouens daar buite het nie. Hy het nie ’n béd nie; hy’t nie kombérse nie; hy’t nie klére nie; hy’t nie eers ’n pénsakkie nie; hy’t nie eers ’n tas nie, maar hy wil universiteit toe gaan.

“So dit kos ons toe nou vir hom ’n bed koop, matrás, lákens, kombérse, ’n klein yskassie, ’n stofie, want hy bly toe in ’n selfversorgingseenheid wat ons toe vir hom daar kry. Elke maand moes ek vir hom ’n toelae gee om kos te koop.”

Jansen het hom vir ’n BA Kommunikasiekunde-graad ingeskryf.

“Hy’t sy driejaarkursus klaargemaak; hy’t in sy laaste jaar ’n toekenning gekry as die beste student in Engels in die universiteit en hy het nie één keer een vak gedruip nie.

“Toe hy daar klaar is, het ek vir hom ’n pos gekry by ’n maatskappy daar in Pretoria met die naam van die RussellStone Group. Hulle besit ’n klomp plase en hy het vir hulle opgetree as ’n liaison officer tussen die mense en die bestuur. Hy’t nou sy eie besigheid begin, Desire2Win Group.

“Hy gaan uit en spreek swart mense toe. Hy verkondig nou aan hierdie ouens die woord van as jý suksesvol wil wees in hierdie lewe, you’ve got to ­take charge of your own life. Life doesn’t owe you anything . . . want ek het met hom gesít, báie ure daar by my op die plaas en dan het ek vir hom die basiese goed geleer. Ek het vir hom gesê: Vergeet die ding van jy’s swart en daar was apartheid en jy’t swaargekry. Jy kan dit by jou dra as ’n wrok teen wit mense, maar dít gaan nie jou beursie vol maak nie. You gotta get beyond that! Jy moet kyk na die toekoms; aanvaar verantwoordelikheid vir jou eie toekoms. En onthou: Niémand skuld jou iets nie. Jý moet dit doen.

“Ek dink hy het ’n damn goeie sukses gemaak. En dit het alles begin met ’n laaitie wat in matriek met ’n selfoonliggie gestudeer het. En ek is baie trots op die outjie, baie, baie trots.”

                                                                                              ***

Ons praat oor sy kinderdae.

“Ek is in Vereeniging gebore in ’n baie árm familie. My oupa het drie seuns gehad en ’n dogter en my pa was die een vir wie hy die oogmerk gehad het om die boerdery oor te neem. Hy het geboer daar agter die Soutpansberge langs die Sandrivier.”

Nadat sy pa getroud is en Hannes gebore is, het hulle na die plaas verhuis om te gaan boer.

“Dit was maar ’n bietjie van ’n verkeerde besluit. Die boerdery het glád nie uitgewerk vir my pa nie; glád nie. My pa is toe daar weg en het by ’n ou gaan boer in Cullinan, waar hy ’n stukkie grond kon huur. Ek en my boetie het toe by my ouma gaan bly in Langlaagte. My ouma was een van drie dogters. Hulle was weeskinders uit die Boereoorlog uit. Ons het daar reg langs die stasie gebly. My oupa was ’n spoorwegwerker; ek sal nooit vergeet nie: so ’n kort outjie met ’n swart petjie.

“En elke oggend vyfuur dan . . . so tróts, nou gaan hy wérk met sy bicycletjie en agterop het hy daai silwer trommeltjie gehad met sy toebroodjies wat ouma vir hom die vorige aand gemaak het en ’n flaskie koffie.

“Toe kry my pa ’n werk by Yskor in Pretoria en toe koop hy vir hom ’n kleinhoewe buite Pretoria by Baviaanspoort. Toe’s ek standerd een soontoe en my boetie saam.”

John Jansen Manganyi (28) woon deesdae in Pretoria.

“My ma, Paulina, werk steeds in Alma. Sy is ’n bediende by ’n gastehuis. Een van my projekte is om haar iewers heen te skuif waar ek vir haar ’n plek kan bou. Ek glo ons sal nog daar uitkom,” sê hy in ’n telefoniese gesprek.

“Hannes is vir my soos ’n pa. Dis iets wat ek nooit gehad het nie, want my biologiese pa . . . die enigste mem­ory van hom is toe hy ’n mes gehad het en my ma wou steek. Dit was sleg gewees, maar Hannes het regtig my ­lewe omgedraai en hy het vir my ontvang soos sy seuntjie en vir my principles geleer wat ek elke dag apply.

“Nommer een-ding wat hy vir my gesê het, is niemand skuld vir my niks nie; ek moet iets vir myself doen. En jy moet altyd waarde skep en nie net aan jouself dink nie, so dit is ook ’n principle wat ek vir mense leer deur projekte wat ek hardloop en train­ing-sessies wat ek hou.

“Ons doen baie training om verhoudings te verbeter in werksomgewings en ons kyk ook na leierskapontwikkelingsprogramme en strategiestudies waar ons kyk waarheen gaan die maatskappy en wat is hulle doelwitte en hoe kom ons daarby uit. Dit help ook in terme daarvan dat die ouens die werkomgewing sien as ’n plek van groei waar hulle enigiets kan doen. Hulle hoef nie te verwag die maatskappy moet alles vir hulle doen nie; hulle moet ook iets na die tafel toe bring.

“Ek deel ook my life story. Mense vra vir my altyd hoekom kan ek Afrikaans praat en hoekom is ek met die Jansens in ’n verhouding, en al daai goed. Dan verduidelik ek vir die ouens dis ’n kans wat die Here vir my gegee het om by so ’n familie in te kom en te leer hoe ons ons eie wealth kan bou en ’n verskil kan maak in die land. En dit kom by drie goedjies: mindset en lifestyle en habits.

“Vir my gaan dit daaroor om ’n kans te kry om met my mense idees te deel. En ek weet dit gaan ons beslis as land of as mense na ’n ander vlak toe vat. “Enige company wat enige dienste nodig het in die lyn van besigheidsontwikkeling of corporate social investment – ons sal hulle definitief kan help.”

Wat is sy beskouing van rassisme in ons samelewing?

“Mense is besig om vir mekaar te blameer en apartheid en die regering en al daai goed. Ek dink dis een van die goedjies wat ons terughou. Mense besef nie daar is so baie wat ons kan doen nie. As ek met mense praat, vra ek eerste vir hulle: ‘Hoekom is jy hier?’ En dan: ‘Hoe wil jy onthou word?’ Dat mense kan sê: ‘John was hier; hy’t dít gedoen.’ As ’n persoon ’n groter prentjie kan sien van homself en die land, dan gaan hy nie ’n skool brand nie of by die werkplek kom met daai rassisme en sê: ‘Nee, die maatskappy moet vir my dit en dit . . .’ Of: ‘Daar is te veel swart of wit mense hier.’ Mense moet kyk binne homself en vra wat kan hy doen vir homself en vir ander mense om hom.

“Ek hou van verhoudings. So my nommer een-principle is if you get it right met verhoudings, sal dit goedgaan met results en dan rewards . . . vir almal.”

Jansen in sy kantoor in Montagu.

Hannes Jansen

Hannes Jansen is in Vereeniging gebore en het arm grootgeword. Hy het deur korrespondensiekursusse gekwalifiseer as geoktrooieerde bestuursrekenmeester en is later as ’n genootskaplid van die Geoktrooieerde Instituut van Bestuursrekenmeesters toegelaat (FCMA).

Hy was hoofbestuurder van finansies by Nissan SA en besturende direkteur van Martin Jonker Motors in Pretoria voordat hy en sy vrou, Annatjie, en hul kinders, Jana en Henk, hulle op ’n besproeiingsplaas by Alma in Limpopo gaan vestig het. 

Hy het daar geboer totdat hulle in 2010 na Montagu verhuis het waar hy sedert 2014 uitvoerende hoof is van Montagu Droëvrugte en Neute.

Onder sy leiding gaan die maatskappy van krag tot krag en mik nou na franchises in die buiteland.

Jansen meen ons ekonomie het baie meer klein ondernemings nodig.



Meer oor:  Selfoon  |  Matriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.