Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sampie was ’n vegter teen onreg

Met die afsterwe van Sampie Terreblanche het ’n groot en belangrike stem teen onreg stil geword, skryf Murray La Vita.

Die Stellenbosse ekonoom en emeritusprofessor Sampie Terreblanche, wat op 17 Februarie in die ouderdom van 84 aan breinkanker gesterf het, het hom vir die grootste deel van sy lewe in sy werk en andersins uitgespreek teen die uitbuiting van arm, hoofsaaklik swart, Suid-Afrikaners.

In ’n onderhoud op 16 April 2014 oor sy boek Verdeelde Land – Hoe die oorgang Suid-Afrika gefaal het, het hy met ’n stem skor van ontsteltenis gesê dié toedrag van sake gee hom koue rillings.

“Waarmee is ons besig in Suid-Afrika? Ek het ’n . . . ek kan maar amper sê . . . obsessie is seker nie ’n goeie woord om te gebruik nie . . . ek het ’n díng daaroor dat die blankes losgekom het met die samesprekings oor die oorgang, dat daar hoegenáámd geen besluit was daaroor dat hulle hulle in die vorige honderd jaar, van 1894 tot 1994 . . . die swart mense meedoënloos uitgebuit het nie.

“Jy weet, hierdie hooghártige houding van blankes dat die armes arm is omdat hulle slég is! Goeie genugtig! Waar kom ons daaraan?”

Sampie Terreblanche tydens ’n onderhoud by sy huis op Stellenbosch in April 2014. Foto: Liza van Deventer

Vrystater

Solomon Johannes (Sampie) Terreblanche is op 17 April 1933 in Kroonstad gebore. Sy pa was ’n boer in die distrik Edenville in die Vrystaat. Nadat hy aan die Hoërskool Edenville gematrikuleer het, het hy aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer en ’n doktorsgraad daar behaal, waarna hy ook ’n jaar aan Harvard studeer het. Hy het vir agt jaar aan die Universiteit van die Vrystaat klasgegee en in 1965 na die US teruggekeer, waar hy tot sy aftrede in 1995 dosent en later hoogleraar was.

Terreblanche was in die jare tagtig betrokke by geheime ontmoetings met die ANC en in 1985 is hy tot voorsitter benoem van die nuut gevormde Gespreksgroep ’85, ’n groep “verligte” denkers op Stellenbosch.

Hy het die Nasionale Party in 1987 verlaat weens die ideologiese verskille tussen hom en die party, veral met betrekking tot apartheid. Hy het daarna een van die NP se skerpste Afrikaanse kritici geword.

Terreblance was ’n stigterlid van die Demokratiese Party, wat later die Demokratiese Alliansie geword het. In sy latere lewe het hy hom van partypolitiek losgemaak.

Hy was uiteindelik nét so krities, indien nie meer krities nie, teenoor die demokraties verkose ANC-regering as wat hy uiters krities teenoor die NP-regering was.

“Die een belangrike ding wat ek eintlik in die boek [Verdeelde Land] sê, en wat in sekere ANC-kringe wóéde veroorsaak, is dat die samesprekings in 1993-’94 nie ’n elite-kompromie bewerkstellig het nie, maar dat dit ’n elite-sameswering was,” het hy in die onderhoud oor die boek gesê.

“Die gemors waarin ons nou sit, is vanweë daai elite-sameswering. Dit was tussen drie magsblokke: die ANC-elite, die wit elite . . . die sakesektor, en die Amerikaanse verteenwoordigers – die Amerikaanse regering, die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds.”

“Ék is bevoordeel deur die apartheidstelsel. Álle blankes is direk bevoordeel.” Foto: Liza van Deventer

Wit apartheidskuld

Volgens hom het “die blankes met die spreekwoordelike moord weggekom by daardie samesprekings. Daar was géén ooreenkoms dat hulle ’n apartheidskuld moet betaal nie.

“Ek kán dit nie kleinkry nie. My pa was ook ’n boer. My pa is ook bevoordeel deur die apartheidstelsel. Ék is bevoordeel deur die apartheidstelsel. Álle blankes is direk bevoordeel. Maar daar was géén besluit dat hulle ’n rykdomsbelasting moet betaal of dat daar ’n bydrae tot ’n restitusiefonds moet wees nie.”

Hy het voorts gesê vanweë die ooreenkoms wat in 1994 bereik is, “het die wittes ’n verskriklike ságte landing in die nuwe Suid-Afrika gehad. Negentig persent plus van die wittes het gewéldig goed gedoen die afgelope twintig jaar.”

Terreblanche was in 2008 die medeskrywer (saam met Drucilla Cornell en Mahmood Mamdani) van ’n artikel waarin voorgestel word ’n ekonomiese Waarheids-en-versoeningskommissie moet geskep word om wittes “op te voed” oor die wyse waarop hulle deur apartheid bevoordeel is.

Hulle het ook ’n program van reparasie en restitusie voorgestel, sowel as ekonomiese maatreëls wat kan aandag skenk aan die “verpletterende institusionele uitwerking” van ’n koloniale stelsel.

Oppenheimer-liefling

Terreblanche kon van naby dophou hoe die sakesektor die oorgang van 1993-’94 “georkestreer” het.

“Want ek was betrokke . . . Toe ek in 1986 breek met die Nasionale Party, het ek ’n liefling van Harry Oppenheimer geword en is ek ge-wine en ge-dine en kon ek na enige plek vlieg – hulle het dit gefinansier. Ek is selfs in Londen deur Harry Oppenheimer ge-wine en ge-dine.

“Die sakesektor wou ’n oorgang hê; hulle het in ’n akkumulasiekrisis verkeer. Hulle wou dieselfde vryheid hê as die Amerikaanse transnasionale ondernemings en hulle het gekry wat hulle wou gehad het.

“Kom ons neem net Harry Oppenheimer en Anglo American . . . Sý myne en die ander goudmyne het die water aan die Rand en die omgewing vergíftig . . . Hy’t as’t ware met die spreekwoordelike moord weggekom. Hy is nié in ’n hoek gedruk of deur enigiemand tot verantwoording geroep om kompensasie te betaal vir daardie swart arbeiders wat so meedoënloos uitgebuit is teen laer as onderhoudslone, of om daardie vergiftigde mynwater skoon te maak nie.

“Die akkumulasie van blanke rykdom gedurende die eeu van onreg het gebeur deur swart mense uit te buit en die natuur te bevuil.”

“As daar nóg vyf jaar van kripvreters gaan wees . . . dan is dit verby met hierdie land.” Foto: Liza van Deventer

‘Kanse is seker nul’

Hy het hom ook uitgespreek oor die nuwe swart elite wat na sy mening ook kunsmatig tot stand gekom het.

“Maar die onderste 50% is so verskríklik arm. Jy weet, hierdie gaping tussen die rykmansland en die armoedeland . . . Hierdie lande is so verskríklik ver uitmekaar . . . Die enigste manier waarop ons hierdie verskriklike armoede kan ophef, is as die ANC-regering tot sy sinne kom en in plaas van so ondoeltreffend te wees en soveel geld op allerhande wéélde te vermórs, dit aan restitusie bestee; aan swart opheffing bestee; die swart buurte van die nodige infrastruktuur voorsien; hierdie vrot swart onderwysstelsel regruk; beter gesondheidsdienste gee . . .

“Maar wat is die kanse dat die ANC tot sy sínne sal kom? Die kanse is seker núl. Ek is bitter pessimisties oor wat die situasie in Suid-Afrika sal wees in 2034 indien die ANC aan die bewind bly.”

Terreblanche skryf Suid-Afrika sal op ’n glybaan na ’n mislukte staat geplaas word indien die ANC voortgaan met die dogmatiese toepassing van regstellende aksie en as die swak prestasie van swart onderwys en die polisie nie dramaties verbeter word nie.

En die gevaar bestaan dat die verskillende groepe in “ons verdeelde land” in ’n soort burgeroorlog uitmekaar kan skeur.

Ook in die tyd toe die NP aan die bewind was, was daar “krippe van bevoorregting waaruit die establishment kon vreet”.

“Tydens F.W. de Klerk se bewind van 1989 tot 1994 het die begrotingstekort van R91,2 miljard tot R237 miljard gestyg. Ons kan aanvaar hierdie skokkende styging was die gevolg van die wit mense se roekelose plundering in die laaste jare van wit oorheersing.”

Maar in die Zuma-tyd was die krippe soveel langer en soveel dieper.

“As daar nóg vyf jaar van kripvreters gaan wees . . . dan is dit verby met hierdie land.”

Die Weste en Trump

Met die omstrede Western Empires, Christianity and the Inequalities Between the West and the Rest (2014), ’n werk van monumentale omvang, het Terreblanche die kroon gespan op sy loopbaan as een van die grootste denkers en ekonome van ons tyd.

Daarin ontleed hy hoe maatskaplike en ekonomiese ongelykheid deel geword het van ’n wêreld wat sedert die 1500’s deur Westerse magte beheer word.

Die boek is ’n gedetailleerde bestekopname van hoe vyf eeue van Westerse empirebou ons samelewing die diep ongelyke en onregverdige een gemaak het wat dit volgens hom vandag is. Hy skryf hierdie ryke sal nie oorleef nie – die wortel van hul ondergang is ongebreidelde kapitalisme.

Op 16 Januarie 2017 het ek ’n laaste kort (telefoniese) onderhoud met Terreblanche gevoer. Dit was om sy mening te vra oor die toespraak wat Donald Trump ná sy inhuldiging as Amerikaanse president gelewer het. Hy het dit beskryf as “die skokkendste toespraak” wat hy ooit in sy lewe gehoor het.

“Daar is 7,3 miljard mense in die wêreld en daardie 7 miljard wat nié Amerikaners is nie, moet nou sidder en beef, want Trump gaan daardie 300 miljoen se belange bevorder op ’n manier wat op die res van die wêreld gaan tráp.

“Dit gaan ’n uiters proteksionistiese beleid wees, nét Amerika se belange. Hy het nie ’n woord gesê oor hoe Amerika die res van die Westerse wêreld sal lei nie.”

Dit is die absoluut teenoorgestelde van die naoorlogse idealisme wat ’n mens by iemand soos pres. John F. Kennedy aangetref het, het Terreblanche gesê.

En ook hierdie profetiese woorde kwytgeraak: “Die man gaan ’n disaster wees. Hy is skoon dronk van hierdie nuwe mag wat hy het.”

’n Groot ou boom

Aan die einde van die onderhoud in 2014 op die stoep van sy Stellenbosse huis het Terreblanche vir ons in die tuin ’n reuse-wildevyeboom gaan wys wat hy in Februarie 1965 geplant het.

“Hier is ’n hele paar op Stellenbosch, maar nie een is so mooi nie. Jy sien, ons het leiwater hier gehad.”

Terwyl ons na die huis terugstap, het hy gesê: “Hy sal nie eintlik uitgehaal kan word nie; so, ek sal dit darem nalaat.”

* Terreblanche word oorleef deur vier dogters en ’n seun. Sy vrou, Ina, het hom in Augustus 2016 ontval.

* Bykomende bronne: Wikipedia en StellenboschWriters.com.

Meer oor:  Sampie Terreblanche  |  Breinkanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.