Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Afrikaans is ’n taal wat deur slawe begin is
Meghan Lawrence

“Watter taal praat jy? Ek aanvaar nie jou taal nie,” het betogers in Stellenbosch Donderdag gesê toe een van die lede in die gehoor Afrikaans gepraat het. 

En van daar af ruk die bakleiery oor die taal weer eens handuit.

Die meeste van die jong studente is so “ever ready” soos gelaaide batterye om die taal óf te beskerm of te verjaag.

Nie om prekerig te klink nie, maar jy wat so gereed is om vir “jou taal” te sterf of “hulle” taal te verjaag – ken jy ooit die oorsprong van die taal?

Daar is twee redes hoekom ek geregtig voel om hierdie vraag te vra: Eerstens, ek studeer immers Afrikaans en Nederlands en moes gereeld in lesings oor die oorsprong van die Afrikaanse taal sit. Tweedens, een van my beste vriendinne behoort aan AfriForum Jeug en nie eens sý, wat net so gereed is om vir Afrikaans te veg, ken die ware oorsprong van die taal nie.

Wat van ’n kort oorsig oor die ontstaan van die taal? Miskien wil jy liefs hier ophou lees, want soos die Ingelse sê: Ignorance is bliss.

Afrikaans het in die 17de eeu ontstaan. Die slawe wat na die Kaap ingevoer is, was van verskillende eilande soos Batavia en Madagaskar en kon nie met mekaar kommunikeer nie. Hulle kon nie mekaar se taal verstaan nie. Dit was ’n ou truuk van die meesters om te verseker dat die slawe nie maklik kon verenig en opstande onder mekaar kon reël nie.

Al taal wat hierdie slawe gehoor het, was die Nederlands wat hul meesters gepraat het. Hulle moes noodgedwonge die taal van hul base aanleer, sodat hulle met mekaar en hul base kon kommunikeer. En voila, daar ontstaan Kombuisafrikaans, oftewel Kaapse Afrikaans. Dis reg. Kaaps.

Kaaps was daar vóór Eugène Marais “Winternag”, die eerste gedig in Standaardafrikaans, geskryf het. Kaaps was daar vóór C.J. Langenhoven in 1925 Afrikaans in die parlement gekry het.

My taal, jou taal, ons taal, maar eintlik is dit die slawe se taal.

Maar natuurlik is dit al vergete in hierdie kleurvolle geskiedenis. So, dankie oom C.J. Langenhoven vir die Afrikaanse taal! Ek kom nou-nou jou standbeeld beskerm!

* Meghan is tans besig met haar meestersgraad in Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Wes-Kaapland. Haar studie handel oor vertelstrategieë en narratief in André P. Brink se slaweroman Philida.

Die ontstaan van Standaardafrikaans:
Voor die Afrikaanse taal gestandaardiseer is, is verskeie Afrikaans variëteite gebruik. Hierdie variëteite word almal op dieselfde hiërargieë geplaas, nes Standaardafrikaans. Nie een van die variëteite kan as belangriker as die ander geag word nie. Variëteite, om net ’n paar te noem, sluit Omgangsafrikaans soos Kaaps, Bolandse, Overbergse, Swartlandse, Weskus-, Oranjerivier-, Standaardafrikaans en vele meer in. Lees my verduideliking hier.

Meer oor:  Afrikaans  |  Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.