Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Afrikaans, my revolusionêre taal . . .

Daar was ’n tyd van my studentejare in die vroeë 1980’s by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) toe Afrikaans ’n radikaler revolusionêre omgangstaal as Engels was.

Jy kon op ’n massavergadering gemaklik van die inkrimpende dwangbuisbestel van die apartheid-dwingelandy praat en dit sou nie net aanvaarbare slagspreuktaal wees nie, maar ook geviva word. Dit was ’n tyd van growwe anglisismes deur ’n minderheid Engelsdenkende aktiviste wat maar genoop was om te praat van ’n “staat van emergensie” en “violente resistansie” om gehoor te word.

Die kommunistemanifes was in Afrikaans in sekere geheime kringe beskikbaar, en daar is kontekstueel gepas daaruit aangehaal, soos die geval met die tweede openingsparagraaf:

“Watter opposisieparty is nie deur sy regerende teenstanders vir kommunisties uitgeskel nie, en watter opposisieparty het die skandelike verwyt van kommunisme teen die nog verder gaande opposisieparty sowel as sy reaksionêre teenstanders nie teruggeslinger nie?” (1937-vertaling deur dr. Jean van der Poel, Helene en Jacques Malan, redakteur van die radikale joernaal Trek in die 1930’s)

Afrikaans, ons taal, was ’n taal van radikale slagspreuke en revolusionêre diskoers. Die taal waarin ons kon teoretiseer en dia­lekties besin. Die taal van die UWK se revolusionêre voorhoede en die militante massas. Dit was alomvattend ons taalrigsnoer in vooruitstrewendswese. Afrikaans my taal, ons taal van ’n bevryde toekoms.

Ons het Afrikaans in die belang van die groter ons toegeëien. En dit is waar die Universiteit Stellenbosch se akademiese taaldebat in die huidige openbare redetwis ontbreek. Anders bly die volgende kwelvraag uit die kommunistemanifes onheilspellend ironies relevant:

“En is u opvoeding dan nie ook deur die maatskappy bepaal nie, deur die maatskaplike toestande waarin u opvoed, deur die direkte of indirekte ingryping van die maatskappy, deur middel van die skole, ens., nie?”

Meer oor:  Uwk  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.