Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Afrikaans se murg, warmte is in sy variante te vinde

Met my nooiensbesoek aan die Taalmonument in die Paarl dwaal my oë oor die twee onewe, uitgestrekte vingers van beton wat hemelwaarts wys. Dié suile verteenwoordig onderskeidelik die groei van Afrikaans en ook sy konteks met Afrika. Die hoogtepunt was die orkes-van-een wat musiek maak in my taal – ’n poel immer-borrelende water in die hart van klip en beton.

Maar hoe klink die Afrikaans wat deur die struktuurelemente van ’n monument uitgebeeld word as groeiend, in gesprek met Afrika en verryk deur die invloed van ander tale?

Is dit die lesingtaal met tongknopers in komplekse sinskonstruksies waarvoor akademici, predikers en mense van aansien tog so lief is . . . was? Of is dit die omgangstaal op voetsoolvlak? Daai lekkerpraat-taal, waar woorde deurspek van ruk-rol r’e, slang-sis s’e, plons-plas p’s en gans-gorrel g’s ’n storie gedoriewaar musikaal kan storie!

Of miskien is dit die diepgewortelde kreatiewe Kaaps – ’n taal wat volgens die skrywer Johanna van Eeden “constantly evolve”. Hoe dan so? wonder ek. Die sprekers se raakvat-sêgoed, die prentjies-praat in ’n lostong-spreektaal wat nie huiwer om kreatief te skep nie, kry dit reg. Soos die bosbewoner êrens in die Kaap wat praat van “kolmuis vreet wasgoed”. Overgesetsynde, ’n vasgeknypte broek tussen die wange van die agterstewe. Maar miskien sê dié gedig van Peter Snyders alles: “Kind, as djy wil regte Afrikaans praat, / doenit! / Dis waam mamma jou lat oplee- rit; / kritisaais skrywers wat skryf / soes mamma praat, / maa moenie ve’wag / mamma moet nou change nie.”

Wat van ’n jong geslag se staccato gesprekke, kreatief gekruie met leen- en mengwoorde van elders? Dié laat lig taalpuriste se wenkbroue tot spits driehoeke. Maar ’n mens gooi nie potensiële neologismes wat die taal kan verryk by die agterdeur uit nie!

Maar ai tog, dit klink darem alte veel na ’n Afrikaanse variasie van fanagalô . . . Oukei! Oukei! Afrikaans fanagalô is dalk ’n bietjie dik vir ’n daalder.

Wat van die flertsies streektaal uit Boesmanland, die Hantam of Namakwaland? Is dit die klank van (regte) Afrikaans?

Ek luister anderdag skaamteloos na gesprekke in ’n koffiewinkel. Die geil en lekkersê-uitdrukkings is vir my onbekend: “die stad se gejoegel is my skóón óór”, “dis ’n kom-kyk-huis”en “hy’s ’n regte knopgat”.

Die antwoord op hoe Afrikaans klink lê nie in betonelemente van die Taalmonument nie, maar in die beweging, die ritme, die klank en musiek wat dit maak wanneer water uit ’n poel borrelend eggo teen die wande van beton en klip.

Elke gebruiker is deel van die poel wat musiek maak. Tongknopers, Kaaps, Afri-fanagalô, streektalers en variante wat nog ontgin moet word, is die musiek wat ons taal lewend hou. Ingrid Erlank, redakteur van afrikaans.com, som dit meesterlik op: “Afrikaans se murg is te vinde in sy variante, dialekte en streektaal waarin die warmte van Afrika en Asië gedy.”

Afrikaans is ’n taal met ’n unieke klank, ’n eiesoortige geskiedenis en ’n blink toekoms . . . solank ons dit net almal aanhou praat.

Meer oor:  Afrikaans  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.