Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Afrikaanse studente voel uitgesluit op Maties

“Oud-Matie, Stellenbosch” (31.03) is ná ’n afwesigheid terug met sy/haar herkenbare styl en klassieke benadering om by gebrek aan logiese argumente nie die bal nie, maar die man (in dié geval manne) te speel. Dit agter die lafhartige skans van anonimiteit. As die onsamehangende brief ’n dag later verskyn het, sou dit as gepaste Aprilgek-grap kon kwalifiseer.

Wim die Swyger, gerugsteun deur George die Filistyn, probeer die huidige taaloorlog afmaak deur dit, onoorspronklik, as politieke opportunisme te verklaar. Regtig? Onder sy bestuur word Afrikaanssprekende studente verbied om privaat, selfs in informele omgewings, Afrikaans met mekaar te praat sodat nie-Afrikaanssprekendes wat hulle dalk mag hoor, nie uitgesluit sal voel nie.

Besef hy hoe uitgesluit Afrikaanssprekende studente voel met dié verbod? In die destydse berugte persgesig-voorval is die “oortreders” onmiddellik geïdentifiseer en uit hul koshuise gesmyt. Dié keer word die skuldiges nie geïdentifiseer en getug nie, maar is die hele verbod glo ’n ligte mistykie wat afgemaak word as die waninterpretasie van die reëls, wat nie “beleid” is nie. “The buck stops” in die rektorskantoor, nie op huiskomiteelidvlak in koshuise nie.

En Afrikaanssprekendes word darem voorwaardelik toegelaat om vrae in Afrikaans te vra in lesings in vakmodules “wat daarvoor kwalifiseer”. Wat is hierdie kwalifikasievereistes? Dat die meeste vakmodules wat eksklusief in Engels aangebied word, nie “kwalifiseer” nie?

Ek voorspel dat die toegewing dat ondersteunende kursusmateriaal in die eerste semester nie, volgens die voorskrifte van die taalbeleid, ook in Afrikaans beskikbaar gestel hoef te word nie, binnekort ’n permanente gebruik gaan word – dit met nog ’n onoortuigende en flou verskoning.

’n Vriend het twee kleindogters wat vanjaar eerstejaars is. Sy Engelstalige kleindogter het by Maties ingeskryf, want haar hele kursus word in Engels aangebied. Sy Afrikaanssprekende kleindogter studeer aan Ikeys. Haar redenasie: As jy in elk geval in Engels onderrig moet word, kan jy dit netsowel doen aan die universiteit met die hoër internasionale akademiese aansien. Ook dat Afrikaans nie verbied word as gesprekstaal op die Ikey-kampus nie . . .

In dié stadium van haar studie het sy nie ’n universiteit nodig wat daarna streef om (eendag) ’n uitnemende internasionale navorsingsuniversiteit te wil wees nie en wat (soos Oud-Matie) glo dat Engels as onderrigtaal die heilige graal is om dié doelwit te bereik.

Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publisering van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal daaroor gevoer word nie.

Meer oor:  Lesersbrief  |  Afrikaans  |  Maties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.