Die ANC-regering probeer Suid-Afrikaners ore aansit met heftige openbare veroordelings en die aanstelling van ’n ministeriële komitee om korrupsie, met klem op Covid-19, te ondersoek.
Soos kommissies in die verlede is dit bloot ’n weerligafleier om die sterk openbare reaksie teen onlangse diefstal en korrupsie betreffende Covid-19-geld van al die skandale weg te lei. Wees verseker dat daar slegs ’n paar klein vissies op die ANC se altaar geoffer gaan word om publieke woede te temper.
Die prosesse om die ondersoeke te doen gaan lank neem en die groot visse gaan uit die net ontsnap.
Wanneer het daar al ooit ’n vermeende hooggeplaaste kader weens die mees flagrante oortredings tereggestaan? Die ANC beskerm hulle polities. 15 jaar gelede is Schabir Shaik weens sy korrupte verhouding met Jacob Zuma tronk toe gestuur, terwyl laasgenoemde vrygespreek is en tot vandag nog nie rekenskap gegee het vir sy beweerde wandade nie.
Is daar iemand in die regering wie se hande skoon is? Moontlik, maar onwaarskynlik, met inagneming van die talle openbarings van korrupsie, bedrog en diefstal wat in eentonige reëlmaat plaasgevind het en steeds plaasvind.
Getuienis ingewin deur ondersoekende joernaliste dui al hoe meer op die bestaan van mafia-agtige misdaadnetwerke en om dit onder beheer te kry sal meer verg as ’n kommissie van ondersoek hier en daar.