As ongeveer die helfte van leerlinge wat gr. 1 begin iewers langs die pad uitval en nie gr. 12 voltooi nie, is daar iewers ’n baie groot fout. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) is sowat 45% van jong mense tussen 15 en 24 jaar nie op skool nie, ontvang nie opleiding nie en beklee nie ’n pos nie. Ons praat van miljoene mense.
Bogenoemde is angswekkende inligting as daar besin word oor waarop die land afstuur. Werkloosheid is reeds ’n probleem en sal in die toekoms ’n onhoudbare situasie skep. Met soveel miljoene sonder werk, waarvan die oorgrote meerderheid ook nie noemenswaardige kwalifikasies het nie, sal onrus en misdaad wet en orde onmoontlik maak.
Daar moet onverwyld begin word om die onderwysstelsel drasties te verander, want op die oomblik rus dit nie leerlinge toe met kwalifikasies en vaardighede wat hulle gesog maak vir die arbeidsmark nie. Wat dringend noodsaaklik is, is dat minstens ’n derde en selfs meer van die akademiese skole omskep moet word in beroepsgerigte skole.
Almal is nie akademies aangelê nie. Daar was voor 1994 baie tegniese en handelskole waar leerlinge die vaardighede kon aanleer waaraan daar tekorte was. En vandag nog is daar baie werk vir gekwalifiseerde ambagsmanne en dié wat geskool is in handelsvakke.
Daar word gedurig gekla oor die swak toestand van onderwys, maar niks word gedoen om dit reg te stel nie. Dit moet nóú gebeur, want later sal dit te laat wees.
- Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.