Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Besin oor ontwikkelingsbelasting

Ek verwys na die berig van 29 Julie oor die ondersoek deur ’n fiskale komitee na moontlike nuwe munisipale belasting. Terwyl munisipaliteite se penarie met swak skuld treffend in die berig uiteengesit word, is dit steeds verstommend dat die oplossing in meer belasting gesoek word.

Die eerste bron van belasting wat deur die fiskale komitee geïdentifiseer word, is ontwikkelingsbelasting. Hoewel die Kaapstad-metro reeds so ’n belasting hef, steun Ian Neilson, onderburgemeester, die voortgesette toepassing en (let wel) uitbreiding van die ontwikkelingsbelasting.

Ontwikkelingsbelasting en -heffings word by die meeste munisipaliteite bereken volgens gepubliseerde riglyne en formules wat daarop neerkom dat die heffing min of meer gelykstaande is aan die kapasiteit van die bykomende infrastruktuur wat vir die ontwikkeling benodig word. Hierdie heffings word gewoonlik saam met beramings van die konstruksiekoste van dienste by uitvoerbaarheidstudies van projekte ingesluit wanneer ontwikkelaars die verkooppryse van hul produkte bepaal. Die komitee waarna die berig verwys (en by implikasie Neilson ook) maak dus ’n groot fout as hulle dink dat die ontwikkelaar die ontwikkelingsbelasting uit sy sak betaal. Dit is die uiteindelike eienaar van die betrokke eiendom wat die belasting betaal, aangesien dit ingesluit word in die ontwikkelaar se verkoopprys. Enige verhoging van hierdie heffings en belasting vind dus direk neerslag in die prys van die eiendom en dieselfde sal geld vir enige nuwe ontwikkelingsbelasting waarmee die komitee vorendag mag kom. Ek het geen beswaar teen die beginsel van ontwikkelingsbelasting nie mits dit op ’n deursigtige wyse bereken en op ’n oordeelkundige manier toegepas word. Indien dit nie gebeur nie, gaan eiendomsontwikkelaars nie kopers vir hul produkte kan vind nie met die gevolg dat ontwikkelings- en eiendomsbelasting, asook die verkope van water, elektrisiteit en so meer nie die verwagte bydrae tot munisipaliteite se inkomste sal lewer nie.

Munisipaliteite se ontwikkelingsbelasting word jaarliks ten tyde van die begrotingsproses hersien en in hul begrotings gepubliseer. In dié verband is dit interessant dat die Kaapstad-metro sy ontwikkelingstariewe vir elektriese dienste in die huidige boekjaar deur die bank met 4,1% verhoog het, terwyl die Drakenstein-munisipaliteit se ontwikkelingstariewe vir kleiner ontwikkelings met 65% verlaag is en vir groter ontwikkelings met 36%. Hierdie syfers weerspieël ’n treffende verskil in die twee owerhede se benaderings tot die volhoubare generering van inkomste, iets waarvan Neilson en sy kollegas gerus kennis kan neem.

Meer oor:  Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.