Tom Gouws se resensie (“Digter nie teen homself beskerm”, 10.07) oor Ruan Fourie se digbundel is onnodig kwetsend.
Om jou beskouing van ’n jong mens se werk met “dis suiwer kak” af te sluit, is binne die opvoedkundige en literêre diskoers heeltemal onaanvaarbaar.
Gouws beroep hom op prof. A.P. Grové, wat dít glo op ’n keer aan ’n student sou gesê het. Selfs al is dié anekdote waar – en ek betwyfel dit – regverdig dit nie sy genadelose aanslag nie.
’n Negatiewe oordeel kan ook fatsoenlik verwoord word – en in Gouws se besondere geval met meer Christelike deernis.
Moes die boekeredakteur nie die resensent teen homself beskerm het nie?