Dawie Jacobs is gewoonlik in die kol met sy briewe waaruit ek baie leer. Sy laaste brief (27.10) laat my wel kopkrap. Soos gewoonlik verheerlik Dawie sy held, Joe Biden, en kraak hy sy vyand, Donald Trump, af. Volgens Dawie gaan ’n verkiesingsoorwinning vir Biden in die VSA ook groot voordeel vir Suid-Afrika inhou. Daaroor kan ek nie stry nie, want ek ken nie Biden so goed soos wat Dawie hom ken nie.
Ek verstaan net nie mooi hoe Covid-19 die geleentheid vir veral Suid-Afrika geskep het om weg te beweeg van rassisme nie. Ek is tevrede met die manier waarop pres. Cyril Ramaphosa die kwessie hanteer het, dog die toepassing daarvan deur Dawie se ANC laat veel te wense oor.
Ja, ek stem saam met hom dat Covid-19 geweldig baie geleenthede in Suid-Afrika geskep het, dog ek verskil met Dawie oor die aard daarvan. Ons het nog iets in gemeen. Ons is albei bekommerd oor rassisme. Ek oor rassisme in Suid-Afrika en hy oor rassisme in die VSA.