Vaderland (of moet ek sê moederland), stik ek aan my tee toe ek Mekriel de Beer (18.02) se kommentaar op die Stihl-advertensie lees. Ek hoop hy maak net ’n grappie oor vroue wat gras sny.
In ons huishouding laat my vrou niemand anders toe om die gras te sny nie, al pluk ek die verlengkoord by die muurprop uit. En, ja, Mekriel, terwyl ek deur die kombuisvenster kyk hoe my vrou die brulmasjien buite heen en weer stoot, laat gly ek ’n heerlike sjokoladekoek vir die naweek by die warm oond in. Jammer, man (vrou), koekbak vir ’n man is dan nou ook seker nie na jou smaak nie?
Later, terwyl ons laatmiddag op die perfek gesnyde grasperk sit en rus met ’n koppie tee en snytjie koek, knipoog my vrou en sê: “My man, jy het die lekkerste koek.” Jy sien, Mekriel, by my huis leef ons in verskillende rolle en steur ons ons min aan konvensies. Ons verrig maar die takies wat elkeen die beste vind en meeste geniet.
Indien ons die reëls moes volg, bly die grasperk hier by ons ’n oerwoud en was daar nooit, ooit koek in die huis nie. Dus, stil met jou.
- Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.