Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Debat oor selfbeskikking mag nie hier eindig

Pieter Labuschagne se middelbladdartikel “Volkstaat ’n hersenskim” (16/07), waarin hy argumenteer dat selfbeskikking vir die Afrikaner onhaalbaar is, het betrekking.

Die vraag moet tereg gevra word hoekom die VF Plus ná 25 jaar skielik besluit het om die selfbeskikking-gedagte af te stof en die ANC in die parlement te versoek om aandag te gee aan die grondwetlike reg tot selfbeskikking.

Wat is die VF Plus se prestasies van die verlede rondom selfbeskikking?

Dit was destyds die siening van sowel die ANC as die NP dat die deelname van die behoudende Afrikaner aan die 1994-verkiesing die kanse van ’n regse staatsgreep uit die weg sou ruim en meer legitimiteit aan die verkiesing sou verleen.

Die stigting van die Vryheidsfront (VF) voor die 1994-verkiesing moet in hierdie lig gesien word, en die moontlikheid van selfbeskikking was die geelwortel wat die ANC aan VF-ondersteuners gebied het.

Tereg sê dr. Labuschagne dat die reg tot selfbeskikking in 1994 as ’n politieke weerligafleier in die Grondwet opgeneem is om Afrikaners te pasifiseer.

Die VF het gevolglik op 23 April 1994 die Akkoord oor Afrikaner-selfbeskikking met die ANC onderteken.

Een van die agt ooreenkomste van hierdie akkoord was dat elke stem vir die VF beskou sou word as ’n stem vir selfbeskikking en vir ’n volkstaat.

In die 1994-verkiesing het 640 000 Afrikaners vir selfbeskikking gestem (vergelyk dit met die 415 000 stemme wat die VF Plus in die 2019-verkiesing gekry het), maar hierdie volkstaat-ondersteuners is egter deur die VF en die ANC op sleeptou in die politieke woestyn geneem.

Hoekom beroep die VF Plus hom nie op sy destydse akkoord met die ANC nie, want die idee van selfbeskikking is vandag net so relevant soos 25 jaar gelede?

Die VF-ondersteuners van 1994 het geweet dat hulle volkeregtelik vertrap sou word onder ’n ANC-regering, en het slegs in 1994 vir die VF gestem omdat hulle vryheid in ’n eie vaderland beloof is.

Hoe onhaalbaar dit ook al vandag mag klink, is territoriale selfbeskikking die enigste wyse vir die Afrikaner om sy selfbehoud te verseker. Die alternatief is te aaklig om aan te dink.

Die selfbeskikkingdebat mag nie hier eindig nie.

Meer oor:  Pieter Labuschagne  |  My Stem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.