Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Dié klem op kleur skep ’n probleem

Willie Esterhuyse (21.05) stel voor dat Victoriastraat in Stellenbosch na Khumalo-straat verander word, met ’n monument voor Admin B daarby.

Dít na aanleiding van, volgens hom, die eerste swart vrou (boonop ’n Suid-Afrikaner) wat die “kronkelpad en kruin van Everest” oorwin het.

Ek sou nie graag die borrel van iemand vir wie, sedert sy jeugjare, Everest “…’n byna magiese en soms spirituele betekenis…” het, laat bars nie, maar volgens my inligting was Saray Khumalo die eerste swart vrou van Afrika wat dié prestasie behaal het. Sophia Danenberg, wat beskryf word as African American, het die prestasie reeds op 19 Mei 2006 behaal en staan dan ook bekend as die eerste swart vrou wat Everest oorwin het. Maar dit daar gelaat.

Ek het nie die vaagste probleem daarmee dat Victoria­straat verander word na Khumalo­straat, of na wie ook al nie. En nog ’n monument gaan my nie aan my bier laat stik nie.

Ek is van mening dat die gemiddelde landsburger al so vuisvoos is van allerhande soort opportunisme en politieke korrektheid dat, of ons nou ry in Khumalostraat of 7de Laan, dit nie ’n snars saakmaak nie.

My probleem lê daarin dat Esterhuyse, so wil dit voorkom, klem lê op die term/begrip “swart”, eerder as “vrou”.

As ’n Everest-bewonderaar behoort Esterhuyse te weet van Cathy O’Dowd (’n Suid-Afrikaans gebore vrou), wat die eerste vrou ter wêreld was wat Everest van beide die noordelike en suidelike kante geklim het.

Sy was ook lid van die eerste Suid-Afrikaanse ekspedisie wat die kruin bereik het.

Suggereer Esterhuyse dat dit ’n groter prestasie vir ’n swart persoon, eerder as vir ’n witte, is om Everest baas te raak? Dat dit ’n fenomenale prestasie is, ly geen twyfel nie. Soos Willie tereg opmerk, dis ’n simbool van “deursettingsvermoë, voorbereiding en oorwoë hardnekkigheid.”

Dit kan wees dat ek die essensie van Esterhuyse se voorstel mistas. Dalk is hy op soek na, spesifiek, ’n (swart) rolmodel? Dit is natuurlik ’n ander onderwerp wat ’n komplekser debat regverdig en, myns insiens, in elk geval nie met ’n straatnaam of monument opgelos gaan word nie.

Solank daar harder hande geklap word vir die swart presteerder, so lank sal ’n subtiele rassistiese boodskap uitgestuur word

Meer oor:  Saray Khumalo  |  Stellenbosch  |  Mystem  |  Lesersbrief  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.