Wilhelm Jordaan se pragtige skrywe (29.07) oor die dood van sy vrou, Jackie, het my diep ontroer.
Ja, “mooi is die lewe en die dood is mooi”, soos ek amper 15 maande gelede self ondervind het.
My geliefde man van 57 jaar, Cliff, sterf die nag van 5 Mei 00:27 in ons bed – soos hy graag wou.
En wat ’n ongelooflike seën vir my en ons dogter, Yolande, om by sy sterfbed te kon staan.
Ek het sy oë toegemaak met vingers wat rus op sy ooglede; sy ken gestut met ’n opgerolde handdoek.
Daarna het ek die bekende, geliefde liggaam gewas en aangetrek – ’n swart sweetpak broek en ’n swart hemp, want hy het gehou van swart klere.
Teen hierdie tyd was dit seker amper 02:00 en ek besluit om nie die kinders of die begrafnisondernemer te bel nie. Almal het rus nodig.
Ek was baie moeg, toe kruip ek in langs die man wat ek liefgehad het vandat ek agt jaar oud was en ek slaap rustig met my hand op sy arm tot 07:00.
Ek dank die Here dat hy só kon sterf – helder en met sy kenmerkende humor tot op die laaste; dat ek liefde en eer aan hom kon betoon tot die einde.
Die Here het gegee, die Here het geneem.
Geloofd sy die Naam van die Here!