Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Dis ons morele plig om hulle te help

Ek sit verlede week gerieflik en warm in my woonstel in ’n aftreeoord en kyk na die nuus om sewe, waarin berig word oor die haglike en onmenslike omstandighede en snerpende koue waarin baie mense in plakkerskampe en townships in die laerliggende dele moet leef weens die stormweer en reën wat die Kaap geteister het.

Hul huise en hutte, asook die strate, word oorstroom deur die reënwater, dis snerpend koud, en hul huise bied geen werklike leefbare skuiling nie. Sommige probeer vergeefs die enkeldiepte water uit hul huise skep, sonder sukses, terwyl die water feitlik onophoudelik uit die hemel stort.

Baie van hulle sit met klein kindertjies en babas terwyl hulle geen ander heenkome het nie. Die verdere slegte nuus is dat die owerhede nie vir hulle tydelike huisvesting kan bied in gemeenskapsale soos in die verlede nie. Die nuwe Covid-19-regulasies laat dit nie toe dat mense in groot getalle in beperkte ruimtes gehuisves word nie.

Daar mag geargumenteer word dat hierdie mense dit alles oor hulself gebring het deur hulle te vestig op laagliggende grond wat nie geskik is vir bewoning nie en sonder twyfel oorstroom sal word in die nat wintermaande hier in die Kaap. Dit bly egter onmenslik om hulle aan hul eie lot oor te laat sonder om enige hulp aan te bied.

Is ons wat veel beter daaraan toe is nie moreel verplig om hierdie mense by te staan nie, al is dit net deurdat ons belastingbydraes deels daarvoor aangewend word? Is dit nie moontlik vir die Wes-Kaapse regering of metro om elders tydelik op ’n hoër, oop terrein grond beskikbaar te stel waarheen hierdie mense hul huise kan verskuif nie?

Die Wes-Kaapse regering kan ook moontlik die nodige vervoer (vragmotors) verskaf waarmee die plakkershut-materiaal vervoer kan word. Die afbreek en herbou van die hutte kan deur die mense self gedoen word om koste te bespaar.

Indien moontlik moet ’n geskikte permanente terrein bekom word sodat dit nie nodig sal wees om die mense weer ná die winter te verskuif nie. Hopelik is daar wel sulke grond beskikbaar.

Ek weet nie hoe omvangryk of wyd hierdie probleem strek nie en, indien hierdie voorstel nie prakties uitvoerbaar is nie, sal die DA ’n ander plan moet maak om hierdie mense te help – ’n munisipale verkiesing lê immers voor!

Hoe dit ook al sy, ’n mens kan nie help om simpatie met hierdie deel van ons gemeenskap te hê nie.

  • Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.
Meer oor:  Bellville  |  Briewe  |  Armoede  |  Brief  |  Mystem  |  Stormweer  |  Koue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.