Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Ek het begrip vir Maties se taalsituasie

Dit lyk vir my of die Stellenbosse taaldebat grootliks deur persone gevoer word wat nie ’n intieme kennis van die huidige hoëronderwys-landskap het nie. Luidens berigte verkies die meeste studente om in Engels onderrig te word. Dit lyk ook of dit die voorkeur van die meeste dosente is.

As voormalige professor en afgetrede finansiële direkteur van ’n Suid-Afrikaanse universiteit, het ek baie begrip vir die posisie van die Universiteit Stellenbosch (US) se bestuur. Die feit is eenvoudig dat universiteite nie gefinansier word vir meertaligheid nie. Inteendeel, die finansieringsvlak van universiteite hou nie eens tred met inflasie nie.

Dit beteken dat ’n dosent vir steeds meer studente verantwoordelikheid neem. Om dan te verwag dat alle materiaal in meerdere tale opgestel moet word, is om ’n geweldige ekstra verantwoordelikheid op dosente se skouers te laai. Dit plaas hulle onmiddellik op ’n agterstand teenoor eentalig Engelse universiteite en vernietig hul kapasiteit om navorsing te doen en te publiseer.

Die geldtekort kan nie deur klasgeld en skenkings opgemaak word nie aangesien klasgeld slegs jaarliks in beperkte mate kan styg en ongeveer alle skenkings aan universiteite met streng voorwaardes kom.

Hoekom dan nie maar ’n eentalige Afrikaanse universiteit nie? Ek noem slegs een voorbeeld. In my vakgebied verskyn alle tegniese materiaal uitsluitlik in Engels, en dit word internasionaal so gestandaardiseer. Die arme Afrikaanse dosent wat Afrikaanse woorde vir al hierdie terme moet uitdink, sal bloed sweet.

Daarby sal sy studente, wanneer hulle in die werksituasie beland, ongelukkig nie hul dosent se Afrikaanse terme kan gebruik nie – niemand sal hulle verstaan nie! Voeg daarby dat ’n groot persentasie van die top- Afrikaanssprekende akademici die land verlaat het. Ons het eenvoudig nie meer genoeg van hulle om oral topklas-onderrig en -navorsing te verseker nie.

Ek is ook hartstogtelik lief vir Afrikaans en ek betreur die situasie wat die huidige omstandighede meebring. En natuurlik is dit sotlik om studente te verbied om hul moedertaal in private gesprekke te gebruik. Tog glo ek regtigwaar die US se bestuur doen nie sleg onder hierdie omstandighede waarin hulle voortdurend op eiers moet loop nie.

Soos prof. De Villiers in Saterdag se Die Burger aandui, doen die US meer vir Afrikaans as die meeste universiteite. Hulle sal foute maak in die proses, maar ten minste doen hulle hul bes in omstandighede wat die meeste van hul voorgangers nooit sou kon voorsien nie.

Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.

Meer oor:  Lesersbrief  |  Afrikaans  |  Taaldebat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.