Die afgelope week het die getal plaasmoorde al hoe meer skokkend geraak. In my veroorsaak dit ’n groot hartseer en ’n stille woede.
Toe ek die boodskap kry van die moord op Mark Regal van Odendaalsrus en die vroeëre tyding dat Eddie Hills van Hennenman ook oorlede is ná die plaasaanval wat ook sy vader, Pieter Hills, se lewe gekos het, was ek onmiddellik baie kwaad.
Hoe Antoinette Hills hierdie moordenaars wat haar seun en man vermoor het, kan vergewe, weet ek nie.
Angela Regal was baie braaf om een van hul aanvallers dood te skiet.
Ek kan nie dink hoe boere in die stadium moet voel nie. Hulle is die mense wat sorg dat ons nie honger ly nie.
Die doodstraf moet maar terugkom en daar moet geen borg of amnestie gegee word aan die misdadigers nie. Sluit hulle vir ewig toe en raak ontslae van die sleutels. Hierdie mense hoort nie in ons samelewing nie. Hul wreedheid het geen perke nie.
Boere, ek bid vir julle en dat julle staande sal bly in hierdie uiters moeilike omstandighede.