Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
My Stem
Ek wil bly, maar laat my tog toe om te groei

Ek verwys na die berig “Cyril: ‘Jong wittes moet nie SA verlaat’ ” (10.04), en wil graag met ons geagte president my mening deel. Maar eers wil ek weet: Hoe verseker ’n firma dat sy personeel nie groener weivelde soek nie?

Behoud van ’n maatskappy se professionele werksmag is weliswaar ’n kuns en laat menige bestuurder wêreldwyd kopkrap.

Om waardevolle personeel te vervang is duur, tydrowend en geweldig ondoeltreffend – die gemiddelde tydperk vir bestuurders om ná aanstelling by ’n nuwe maatskappy gelyk te speel, is gemiddeld 6,2 maande indien die nuweling die mas opkom (volgens ’n studie wat in 2017 deur die Harvard-sakeskool onder 610 uitvoerende hoofde gedoen is).

Maar die wêreld draai as gevolg van kapitalisme, mededinging en oorwinning deur die bevoegste, innoverendste mense. Die sielkundige dr. Jordan Peterson verwys hierna as die “hiërargie van bevoegdheid”, waar mededinging ver­seker dat die bevoegste bo uitkom, en ons as samelewing na vooruitgang streef. Dit impliseer dat die mensdom hom gedurig sal ywer om te verbeter.

Maar as jou organisasie nie met hierdie beginsel ooreenstem nie, sal dit stagneer en agteruitgaan.

Meneer die president, my analogie is dus as volg: Ons republiek bevat ’n kookpot van idees en potensiaal – maar ons vlytigste innoveerders word konstant gekniehalter deur agterlike wet­gewing, burokrasie, lukrake toepassing van ondeurdagte koffietafel-idees, Marx­istiese sosiale manipulasie en korrupsie. Mededinging is ’n Westerse vloekwoord, waarde word gestraf, goeie werksetiek is ongekend, en onbevoegdheid en middelmatigheid is aan die orde van die dag. En ek en my toekomstige kinders se waarde in ons land hang net af van ons velkleur.

Verbeel jou jy het onder hierdie omstandighede gewerk in ’n firma, genaamd Republiek van Suid-Afrika (Edms.) Bpk. – hoe lank sou jy kon uithou? Hoe vinnig sou jy jou tassie pak?

En watter regdenkende mens sou instaan as plaasvervanger ná jou bedanking?

My mening hierbo is gebaseer op my anekdotiese ervarings. Ek is wel nie aangestel as spreekbuis vir professionele “jong wittes” nie, maar ek glo dat ek ’n mate van die huidige sentiment weerspieël as ek die volgende noem: Ek wil leer en groei; ek wil werk; ek wil bou; en ek wil help waar ek kan. Maar leë woorde, aggressiewe ideologieë en identiteitspolitiek van ons leiers verklaar my bydrae nietig, my waarde rassisties en hou my voort­durend verantwoordelik vir die sondes van my voorvaders.

Altruïsme is alles goed en wel, maar as my vooruitgang ongewens is, sal ek maar gaan soek na groener weivelde waar dit waardeer word, en waar ek toegelaat word om my beste te lewer.

Meer oor:  My Stem  |  Anc  |  Groei  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.